|

Vat so, slaggate! AfriForum se Lichtenburg-tak ontvang R30 000-borg om nóg slaggate mee te takel

AfriForum se Lichtenburg-tak het Vrydag (8 Mei) R30 000 as borg ontvang van Lichtenburg Toyota as deel van dié onderneming se Five-in-One-inisiatief waardeur vyf aktiwiteite en vyf liefdadigheidsorganisasies ondersteun word. Die borg is moontlik gemaak deur Toyota Lichtenburg, JBH Agri, Tacet, Hans Nel Bande, NWK, Pioneer, Novon, Toyota Financial Services en ADAMA en gaan aangewend word vir die Lichtenburg-tak se voortgesette slaggatherstelprojek. Dié tak het in die eerste vier maande van die jaar reeds 16,6 ton teer ingespan om slaggate in Lichtenburg te herstel.

Pine Pienaar (middel, projekleier van AfriForum se Lichtenburg-tak se teerspan) by Reghardt Engelbrecht (links) en Geraldo Pereira (regs) van Toyota Lichtenburg.

Five-in-One is die geesteskind van Marlette Smit Grobbelaar van Toyota Lichtenburg en ’n opwindende inisiatief wat vanjaar vir die eerste keer aangepak word wat daarop gemik is om op verskeie terreine ’n reuseverskil in Lichtenburg te maak.  

“Ons wil ons opregte dank uitspreek teenoor elke onderneming en lid van die gemeenskap wat hierdie projek ondersteun. Sonder die betrokkenheid van plaaslike ondernemings en inwoners sou projekte soos hierdie nie moontlik gewees het nie. Hierdie borg wys dat die gemeenskap bereid is om saam verantwoordelikheid te neem vir die verbetering van ons dorp en ons waardeer elke bydrae wat gemaak word,” sê Pine Pienaar, projekleier van die Lichtenburg-tak se teerspan.

“Slaggatherstelprojekte is van kardinale belang omdat swak padtoestande nie net voertuie beskadig nie, maar ook ’n ernstige veiligheidsrisiko vir motoriste en voetgangers inhou. Wanneer gemeenskappe en ondernemings saamstaan om infrastruktuurprobleme te takel, verbeter dit veiligheid en die algemene funksionering en voorkoms van ’n dorp. Hierdie donasie gaan ons in staat stel om ons herstelwerk volhoubaar voort te sit en nog meer slaggate in Lichtenburg te herstel,” sê Armand Viljoen, AfriForum-koördineerder vir die Marico-distrik.

AfriForum se Lichtenburg-tak bedank al die donateurs, ondersteuners en gemeenskapslede wat help om die slaggatherstelprojek moontlik te maak en beklemtoon dat volgehoue samewerking ’n tasbare verskil in dié dorp maak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf