AfriForum doen stappe om Eskom-Merafong se kragverspreidingsooreenkoms te laat hersien
AfriForum het met regstappe begin teen die Merafong Plaaslike Munisipaliteit, Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) oor die wettigheid van ‘n Verspreidingsagentskapooreenkoms wat tussen Eskom en die munisipaliteit gesluit is.
Vroeër vanjaar het Eskom in ’n mediaverklaring aangekondig dat hulle ’n verspreidingsagentskapooreenkoms met die Merafong-munisipaliteit aangegaan het weens die munisipaliteit se versuim om ’n aansienlike uitstaande skuld te vereffen. In reaksie hierop het AfriForum ’n formele aanmaningsbrief aan die munisipaliteit voorgelê waarin duidelikheid versoek word oor beweerde prosedurele onreëlmatighede rondom die sluiting van hierdie ooreenkoms wat in Desember 2025 onderteken is.
AfriForum het spesifiek kommer uitgespreek oor of die ooreenkoms aan die vereiste wetgewende raamwerk voldoen het. Die organisasie het bewyse versoek dat daar aan alle statutêre vereistes voldoen is, insluitend die publikasie van openbare kennisgewings, die uitvoering van haalbaarheidsstudies, die aanvaarding van raadsbesluite, sowel as die nodige goedkeurings van die Nasionale Tesourie en NERSA. Ten spyte van hierdie versoeke het die Merafong Plaaslike Munisipaliteit versuim om enige reaksie te lewer.
Gevolglik het AfriForum nou die hof genader om ’n bevel te versoek wat verklaar dat NERSA versuim het om sy pligte as bewaarder en afdwinger van die regulatoriese raamwerk wat in die Elektrisiteitsreguleringswet (ERA) voorsien word, na te kom.
Daarbenewens vra AfriForum die hof om die verspreidingsagentskapooreenkoms tussen Eskom en die Merafong-munisipaliteit onwettig en ongeldig te verklaar en dit tersyde te stel.
“Hierdie hofsaak is van kritieke belang,” sê Morné Mostert, hoof van Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Alhoewel dit welbekend is dat baie munisipaliteite oor die land heen faal in hul kernfunksies – insluitend die betaling van grootmaatdiensverskaffers soos Eskom – kan dit nie die omseiling van die wet regverdig nie.”
AfriForum waarsku dat pogings deur Eskom en die Nasionale Tesourie om munisipaliteite in verspreidingsagentskapooreenkomste in te dwing sonder om die voorgeskrewe wetgewende raamwerk na te kom, ’n gevaarlike presedent skep. “Om onwettige prosesse toe te laat om wortel te skiet, ondermyn die oppergesag van die reg en maak die deur oop vir verdere mislukkings in die regering,” sê Mostert.
AfriForum beklemtoon verder dat Eskom self ’n bedenklike baanrekord het, insluitend kommer oor finansiële bestuur, verkrygingsprosesse en die uitvoering van tenderprosedures. “Om ’n sukkelende munisipaliteit onder die beheer van ’n reeds mislukte kragverskaffer te plaas wat bekend is vir korrupsie en finansiële wanbestuur, sal waarskynlik nie die onderliggende probleme oplos nie,” voeg Mostert by.
AfriForum hou vol dat NERSA eerder sy mandaat moet nakom deur munisipaliteite wat nie-voldoen nie te identifiseer, ná die nodige prosesse hul elektrisiteitsverspreidingslisensies waar nodig te herroep, en ’n deursigtige proses te begin wat bekwame diensverskaffers – waarvan daar baie in die land is – in staat sal stel om vir die bestuur van hierdie lisensies te tender.
AfriForum bly daartoe verbind om te verseker dat wettige, deursigtige en volhoubare oplossings geïmplementeer word om die land se munisipale en elektrisiteitskrisis die hoof te bied.



