| |

AfriForum se PE-buurtwagte voed honderde te midde van Kaapse storms

AfriForum se drie buurtwagte in Port Elizabeth het die afgelope week saamgespan om gemeenskappe wat onder die verwoestende storms in onder meer die Oos-Kaap gebuk gaan, met skenkings van kos, klere, komberse, formulemelk en doeke te ondersteun.

Die Broadwood- en Springfield Tudor-buurtwagte het met ’n ruim skenking van Superspar Mount Pleasant nagenoeg 200 warm maaltye voorberei en uitgedeel. Die restaurant Nice to see you in Mount Pleasant het ook 67 vooraf verpakte etes aan AfriForum se Springfield Tudor-buurtwag geskenk, wat op sy beurt die kospakkies by die MTR Smit-toevlugsoord vir kinders afgelaai het. AfriForum se Broadwood-buurtwag het ook groente en vrugte in Groenbossies afgelaai, asook by die tehuis Huis Louisa Meyburgh en die Caring With Heart-sentrum.

Die buurtwagte het boonop nie geskroom om by die opruimingswerk betrokke te raak nie. Die buurtwagte in Broadwood, Springfield Tudor en Walker Drive het onmiddellik laagliggende strate besoek om te kyk vir moontlike oorstromings. Waar oorstromings voorgekom het, het hulle met die toestemming van die polisie die strate afgesper en nooddienste in kennis gestel.

In Broadwood het die buurtwag die munisipale kontrakteurs wat deur die nag gewerk het om kragdrade te herstel, met die nodige beligting bygestaan. Inwoners van Justinweg het ook deur die nag koffie en tee aan die munisipale span te voorsien.

“Dit is verblydend om te sien dat die buurtwagte te midde van erge storms nie net op die veiligheid van inwoners gefokus het nie, maar dat hulle ook munisipale spanne en ander organisasies te hulp gesnel het. Al drie buurtwagte het ten koste van hul eie veiligheid en gerief steeds verskeie patrollies uitgevoer om te verseker dat die gemeenskap veilig is,” sê Peter Kindness, leier van AfriForum se Broadwood-buurtwag.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf