| | |

AfriForum-buurtspan takel vervalle infrastruktuur om Maluti Hooglandskool

Die AfriForum-buurtspan in Bethlehem het op 3 Junie begin met die herstel van slaggate, die oprigting van stoptekens en die verf van voetoorgange om die Maluti Hooglandskool op die dorp. Twee stoptekens is voor die skoolhek in Unionstraat opgrig, sowat 700 kg teer is gebruik om die slaggate reg te maak en 20 liter verf om die voetoorgange oor te verf.

Die toestand van die infrastruktuur om die skool het oor die afgelope jare só versleg dat sommige van die slaggate tans so groot is dat ouers nie meer veilig daar kan ry om hul kinders by die skool af te laai nie. Hierdie projek vorm deel van AfriForum se voortdurende pogings om gemeenskappe te bemagtig en praktiese oplossings vir munisipale verval te bied.

Jare se swak instandhouding en munisipale agteruitgang het daartoe gelei dat die infrastruktuur om skole, hospitale, polisiekantore en brandweerdienste in baie gevalle in ’n haglike toestand verkeer. In sommige gebiede het paaie só erg verswak dat dit byna onmoontlik geword het om dit veilig te gebruik.

“AfriForum kan met behulp van ons lede wel van die kleiner herstelwerk aanpak, maar die omvang van die skade is enorm. Dit gaan jare neem om die agterstand in die herstel van infrastruktuur in te haal,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Hierdie krisis is egter nie uniek aan Bethlehem nie. Volgens ’n voorlegging aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verkeer al 23 munisipaliteite in die Vrystaat tans in finansiële nood, hoofsaaklik weens swak invorderingsvlakke, oorafhanklikheid van staatstoelaes, stygende diensleweringskoste en swak finansiële bestuur. Hierdie finansiële verval het ’n direkte impak op infrastruktuuronderhoud en dienslewering, wat daartoe lei dat paaie, stormwaterstelsels en ander openbare infrastruktuur jaar ná jaar verder agteruitgaan.

Die verval van infrastruktuur om die Maluti Hooglandskool is dus simptomaties van die veel groter probleem in die Vrystaat.  Gemeenskappe word gevolglik gedwing om toenemend self verantwoordelikheid te neem vir die herstel van hul dorpe en openbare ruimtes.

AfriForum rig buurtspanne in talle dorpe op om gemeenskappe te bemagtig om self verantwoordelikheid vir die instandhouding van hul omgewing te neem waar plaaslike owerhede tekortskiet. Die Bethlehem-buurtspan lewer reeds die afgelope drie jaar volhoubare diens aan die gemeenskap.

Benewens slaggatherstelwerk, is die buurtspan ook betrokke by die skoonmaak van verstopte dreine, grassnywerk in openbare ruimtes, hulpverlening tydens veld- en grasbrande, asook vullisverwydering – veral in kleinhoewegebiede waar die munisipaliteit versuim om hierdie diens te lewer.

“Ons nooi inwoners uit om die buurtspan te steun en van hul dienste gebruik te maak en so dan deel van die oplossing te word. Wanneer gemeenskappe saamstaan, kan ons ’n daadwerklike verskil maak en ons dorpe weer funksioneel en veilig maak,” sluit Ikking af.

Kontak Ikking (066 486 7612) om in kontak te kom met die AfriForum-buurtspan in Bethlehem.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf