Die geswoeg om ’n normale middelklas-landsburger te wees – en wat om daaraan te doen
Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder
Verlede week sê Barbara Creecy, minister van Vervoer, dat haar departement dit oorweeg om – met die doel om die sukkelende Padongelukfonds se koffers aan te vul – ’n bykomende heffing in te stel op die jaarlikse hernuwing van voertuie se lisensieskywe. Dít terwyl die owerhede in Gauteng en KwaZulu-Natal beoog om spoedig nuwe nommerplate te vereis, en terwyl die regering wil seker maak dat jy nie êrens Bitcoin het wat hul tentakels ontwyk nie.
So kom ons deurdink ’n bietjie wat dit verg om ’n wetsgehoorsame middelklas-landsburger te wees. Nie wat dit verg om vooruit te boer nie – net wat dit verg om nie gearresteer of beboet te word nie. Ons ignoreer die gewone eise van die lewe en beperk onsself tot dit wat spesifiek deur die regering ingestel is. Wát dit verg om van kop tot tone gelisensieer en geregistreer te wees.
Jy moet ’n identiteitsdokument hê. Jy moet ’n bestuurderslisensie hê wat elke vyf jaar (met ’n groot gesukkel) hernu moet word. Jy moet by Jan Taks geregistreer wees en jaarliks ’n belastingopgawe indien (jy gaan waarskynlik veel meer met hulle te doen kry as net een opgawe per jaar). As jy wil reis, het jy ’n paspoort nodig – wat nie veel werd is sonder ’n paar ambassades se stempels nie. Dan praat ons nog nie eens van al die registrasie en lisensiëring wat jy nodig het as jy wil trou, ’n huis koop, kinders kry, ’n onderneming begin, ’n vuurwapen koop of jou kruisie trek in ’n verkiesing nie. Fooie op fooie en ure op ure in lang rye by staatsdienskantore, en ’n regering wat wil aanhou byvoeg tot daardie fooie.
’n Mens kan niemand kwalik neem wat by tye wanhopig voel te midde van hierdie geswoeg nie. Tog gaan wanhoop en ergernis niks verander nie. Die strategie wat wel die situasie kan verander, kan in twee woorde opgesom word: staatsbestandheid en selfbestuur.
Staatsbestandheid behels optrede wat verseker dat daar niks aan die regering gegee word wat hom nie toekom nie. Wil ’n munisipaliteit of metroraad ’n heffing instel wat onwettig of ongrondwetlik is? Moet dit dan nie betaal nie en bestry dit in die hof. Dink ook aan stelsels soos e-tol en TV-lisensies, waarvan die een reeds formeel en die ander prakties gesproke deur burgers se verwerping tot niet gemaak is. Elke geval waar gewone mense dit regkry om uit te koop van die regering se amptelike stelsel, is eintlik ’n vorm van staatsbestandheid.
Die strategie wat wel die situasie kan verander, kan in twee woorde opgesom word: staatsbestandheid en selfbestuur.
Selfbestuur gaan minder oor die vermyding van die regering se amptelike stelsels en behels eerder die oprigting van privaat of gemeenskapsgedrewe alternatiewe daartoe. By AfriForum verwys ons graag na die vierde regeringsfeer: nie nasionaal, provinsiaal of munisipaal nie, maar vanuit die gemeenskap. As buurtwagte en privaat sekuriteit die rol van die polisie in jou buurt oorgeneem het, dan het die vierde regeringsfeer ingetree waar die eerste drie sfere misluk het. As privaat rolspelers jou vullis verwyder, jou kinders se onderwys voorsien (of aanvul), die verkeer reguleer by jou naaste wisselaar en die straatligte herstel voor jou huis, dan het die vierde regeringsfeer de facto (in werklikheid) begin intree, ofskoon dit nie de jure (deur ’n wet of amptelike erkenning)die geval is nie.
Uiteindelik gaan geen strategie oornag die geswoeg wegneem wat dit verg om ’n normale middelklas-landsburger te kan wees nie. Selfs al wend ons ons beste pogings aan, gaan die land se regering vir die afsienbare toekoms allerhande ongevraagde laste op ons skouers bly plaas en die geswoeg sal voortduur. Daar is egter ’n pad uit en dit is een wat doelgerig oor geslagte heen oopgekap moet word.



