Water
| |

AfriForum nader hof om Johannesburg-metro se onregmatige waterheffing te stuit

Deidré Steffens (Afrikaans)

Die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se voortgesette weiering om sy omstrede verhoging van 65,6% in sy wateraanvraagbestuursheffing (water demand management levy) te verduidelik óf te regverdig, het AfriForum genoop om die Hooggeregshof te nader vir dringende verligting nie.

AfriForum het  vandeesweek ’n dringende aansoek ingedien om die metro se besluit om die heffing as deel van sy 2026/2027-begroting op 27 Mei aan te neem, te hersien en tersyde te stel. Tensy die hof ingryp, sal inwoners vanaf 1 Julie ’n wateraanvraagbestuursheffing van R107,74 per maand moet betaal. Dié heffing sal betaalbaar wees ongeag hoeveel water ’n huishouding gebruik of die metro se vermoë om ’n betroubare waterdiens te lewer.

Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die Johannesburg-metro het herhaaldelik geweier om die metodologie of rasionaal te verskaf wat die 65,6%-verhoging regverdig. Dit is ten spyte van die feit dat die aangevraagde inligting deel gevorm het van die begrotingsproses en nodig was om ingeligte openbare deelname moontlik te maak.

“Daar is van die inwoners van Johannesburg verwag om kommentaar te lewer op ’n beduidende tariefverhoging sonder om die inligting te hê oor hoe dit bereken is, waarom die spesifieke verhoging nodig is, of hoe die bykomende inkomste gebruik sou word. Dít is nie betekenisvolle openbare deelname nie,” sê Steffens.

AfriForum voer aan dat die metro se blatante minagting vir sy wetlike verpligtinge daarop neerkom dat inwoners gedwing word om vir jare se infrastruktuurverval en finansiële wanbestuur opdok. Dit terwyl die metro steeds weier om te verduidelik waarom dié verhoging nodig is.

“Die oppergesag van die reg vereis deursigtigheid, verantwoordbaarheid en rasionele besluitneming. Wanneer ’n munisipaliteit weier om te verduidelik hoe ’n groot tariefverhoging bepaal is, versuim om die inligting te verskaf wat vir betekenisvolle openbare deelname nodig is en nogtans die verhoging goedkeur, is inwoners geregtig om die hof te vra om in te gryp,” sluit Steffens af.

Hierdie saak vorm deel van AfriForum se voortgesette pogings om munisipaliteite aanspreeklik te hou vir mislukte water- en sanitasiedienste. Klik hier vir meer inligting hieroor.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik