Teenboelieveldtog fokus op voorkoms, verskille en die moed om op te staan

’n Bril, velkleur, lengte, liggaamsbou of selfs die manier waarop ’n kind aantrek – dít is wat ’n kind uniek maak en behoort nooit ’n rede te wees om hom of haar te verneder nie. Tog is dit dikwels juis hierdie uiterlike verskille wat kinders die teiken van boeliegedrag maak.
AfriForum se Teenboeliespan het op 24 Augustus tydens ’n besoek aan CVO Skool Potgietersrus in Limpopo in afsonderlike aanbiedinge met laer- en hoërskooleerders gesels oor hoe kinders se uiterlike voorkoms en verskille soms gebruik word om hulle uit te sonder, te spot of uit te sluit. Die fokus was op ’n eenvoudige boodskap: soos wat elkeen van ons uniek en spesiaal deur God geskape is, is die persoon langs ons ook. Juis daarom behoort ons mekaar se verskille te respekteer en mekaar se waarde raak te sien.
Volgens Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se Teenboelieprogram, begin boeliegedrag dikwels met iets wat as ’n “grappie” afgemaak word. “Wat vir een persoon soos ’n onskuldige grappie oor iemand se voorkoms mag voel, kan die kind aan die ontvangkant daarvan baie seermaak – veral wanneer dit herhaaldelik gebeur. Ons wil kinders leer om die persoon agter die verskil raak te sien. ’n Kind se voorkoms of enige ander uiterlike eienskap bepaal nie sy of haar waarde nie. Die uitdaging aan leerders is om hul eie verskille en dié van ander nie as ’n swakheid te sien nie, maar as deel van dit wat elke persoon uniek maak.”
Die program gebruik die wapenrusting van God as ’n praktiese beeld van beskerming wat kinders toerus om hulself teen boeliegedrag te beskerm en die regte keuses te maak. Matteus, AfriForum se teenboelie-ambassadeur, help om hierdie boodskap op ’n verstaanbare en ouderdomsgepaste manier oor te dra. Die wapenrusting herinner kinders daaraan om met waarheid, geloof, vrede, goedhartigheid en moed op te tree en sterk te staan wanneer hulle of iemand anders geteiken word.
Mnr. Jan Harmse, skoolhoof van CVO Potgietersrus, beklemtoon ook die belangrikheid hiervan: “God roep ons om mekaar lief te hê en met respek te behandel. Wanneer ons die volle wapenrusting van God aantrek, kies ons om op te staan teen boosheid – nie met geweld nie, maar met waarheid, geloof, liefde en vrede. Kies om ’n verskil te maak en staan op teen boeliegedrag!”
AfriForum se Teenboelieveldtog rus skole, ouers en leerders toe met praktiese kennis om boelie- en kuberboeliegedrag te herken, vroeg te identifiseer en ’n kultuur van respek te bevorder.
Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole, stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.




