Frankfort-hoofstraat lyk spoggerig met unieke asblikke
AfriForum se Frankfort-tak het 13 pasgemaakte asblikke in JJ Hadebe-straat, die dorp se hoofstraat, geplaas in ’n poging om Frankfort ’n rommelvry dorp te maak. Hierdie asblikke is spesiaal ontwerp vir die gemeenskap en is toegerus met slotte om te verseker dat rommel veilig gestoor word. Die ontwerp verhoed dat rommel maklik uitgehaal en rondgestrooi kan word, wat ook help met die bekamping van rotte.
Die asblikke word weekliks leeggemaak en die rommel word na die vullisterrein vervoer. Rommel in die strate hou nie net ’n estetiese probleem in nie, maar ook ’n ernstige veiligheidsrisiko. Dit kan maklik aan die brand gesteek word, wat skade aan infrastruktuur kan veroorsaak en die gemeenskap se veiligheid in gevaar kan stel.
“Die asblikke is maar ’n klein beginpunt om die rommelprobleem in Frankfort op te los,” sê Johan Ungerer, voorsitter van AfriForum se Frankfort-tak. Hy wys ook daarop dat die vullisterrein in Frankfort in ’n haglike toestand is en vinnig besig is om sy kapasiteit te bereik. “Die volgende stap sal wees om aandag te gee aan die ontwikkeling van ’n nuwe stortingsterrein,” sluit Ungerer af.
AfriForum se Frankfort-tak nooi die gemeenskap uit om aktief deel te neem aan inisiatiewe wat daarop gemik is om die dorp se dienste doeltreffend te bestuur en te verbeter. Besoek die AfriForum-webtuiste vir meer inligting om betrokke te raak of sluit aan by www.wordlid.co.za.
