|

Traag, traer, Tswaing-munisipaliteit: AfriForum versoek premier om in te gryp oor vrot dienslewering en vervalle infrastruktuur

AfriForum het ’n dringende beroep op Lazarus Kagiso Mokgosi, premier van Noordwes, gedoen om in te gryp by die dienslewerings- en infrastruktuurkrisis wat tans in die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit afspeel. Die verval van veral Ottosdal, Delareyville en Sannieshof en die munisipaliteit se traagheid om sake reg te ruk hou volgens die burgerregteorganisasie ernstige gevolge in vir inwoners se gesondheid, veiligheid, waardigheid en lewenskwaliteit.

AfriForum het die munisipaliteit al telkens gewys op die omvangryke verval van dié dorpe en die risiko’s wat dit inhou, en selfs aangebied om formeel – deur middel van ’n samewerkingsooreenkoms – bystand te verleen. Die versoek om formele samewerking is van die hand gewys en pogings om die bekommernisse rakende dienslewering en infrastruktuur met die munisipaliteit op te neem, is geïgnoreer. AfriForum beskou daarom die premier se ingryping by die situasie nou as noodsaaklik.

Die organisasie versoek daarom in ’n brief aan die premier dat ’n vergadering dringend tussen AfriForum en die premier of ’n senior munisipale afvaardiging belê én besoeke aan die betrokke dorpe gebring word sodat die premier die verval eerstehands kan aanskou. AfriForum eis voorts dat ’n omvattende diensleweringsherstelplan opgestel word; dat ondersoek ingestel moet word na die moontlikheid van provinsiale ingryping of toesig by die munisipaliteit; en die versekering dat dienslewerings- of infrastruktuurprobleme wat dringende gesondheids- en veiligheidsrisiko’s inhou, onmiddellike prioriteit sal geniet.

Voortslepende probleme soos rioolvuil in strate, onwettige storting van vullis, onbetroubare vullisverwydering, swak vullisterreinbestuur, vervalle paaie en swak en onbetroubare watervoorsiening is van die belangrikste probleme waarmee inwoners daagliks te kampe het.

Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, meen inwoners kan nie dié omstandighede onbepaald verduur, terwyl klagtes, beloftes en versoeke om regstellende optrede onbeantwoord bly nie.

“Ons vra nie vir nóg ’n vergadering waar beloftes gemaak word en geen verandering bewerkstellig nie. Ons vra vir sigbare provinsiale leierskap, aanspreeklikheid en meetbare ingryping, want die inwoners van Ottosdal, Delareyville en Sannieshof verdien doeltreffende en betroubare basiese munisipale dienste en infrastruktuur,” verduidelik Nel.

Laat jou stem hoor

Is jy ook keelvol vir die verval in Ottosdal, Delareyville en Sannieshof? Laat dan jou stem hoor. Voeg jou stem hier by AfriForum se petisie.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik