AfriForum se eerste buurtspan in Noord-Kaap verwyder drie ton vullis
AfriForum se eerste buurtspan in die Noord-Kaap het amptelik vandeesweek begin om die omgewing van Deben (Dibeng) te verbeter. Dié span het Maandag sowat drie ton vullis opgetel en verwyder wat aan die kant van die pad gestrooi is. Die span het op die hoofstraat begin en vullis opgetel by die drie hoofingange na die dorp, naamlik die ingang vanaf Kathu, Winton en Hotazel.
Die buurtspan is gestig om praktiese oplossings te bied in gevalle waar munisipale dienste tekortskiet. Deur vinnig op probleme soos onwettige storting, verwaarlosing en ander gemeenskapsuitdagings te reageer, wil AfriForum saam met inwoners werk om dorpe in die John Taolo Gaetsewe Distriksmunisipaliteit te verbeter.



“Hierdie eerste aksie wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe verantwoordelikheid neem vir hul omgewing. Ons buurtspanne is daar om daadwerklik op te tree en ons sien uit daarna om hierdie model na nog dorpe in die distrik uit te brei,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum nooi gemeenskappe, sakeondernemings en inwoners uit om by dié inisiatief betrokke te raak. Gemeenskappe wat belangstel om ’n buurtspan te begin of ondersteuning te ontvang, kan meer inligting hier kry.



