AfriForum verbeter stormwaterdreinering, padinfrastruktuur in Delportshoop
AfriForum se Delportshoop-tak het die afgelope week twee belangrike infrastruktuurprojekte suksesvol voltooi om die veiligheid en lewensgehalte van inwoners te verbeter. Die tak het die installering van ’n stormwaterpyp in Britsstraat behartig én verskeie slaggate in Scholtzstraat opgevul.

Om die padinfrastruktuur teen uitspoeling te beskerm en te verseker dat voertuie en voetgangers selfs ná swaar reën toegang tot die gebied het, het die tak ’n stormwaterpyp oor die spruit in Britsstraat geïnstalleer. Hierdie pyp speel ’n belangrike rol om reënwater onder die pad deur te lei, eerder as wat water oor die padoppervlak vloei.
’n Week vantevore het die tak altesaam 16 groot slaggate in Scholtzstraat opgevul. Drie vrywilligers het saamgewerk om ongeveer drie ton sand en klip, vyf sakke sement en een ton gruis te gebruik om die pad te herstel. Danksy die skenking van sement van Danie Maritz en SJ Jansen van Rensburg, asook Ben Venter wat die sand beskikbaar gestel het, sou hierdie projek nie op dieselfde skaal moontlik gewees het nie.
“Wanneer gemeenskappe saamstaan, kan groot verskille gemaak word. Hierdie projekte wys dat inwoners nie magteloos hoef toe te kyk hoe infrastruktuur agteruitgaan nie. Deur samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid kan praktiese oplossings gevind word wat almal bevoordeel,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum moedig inwoners aan om by hul plaaslike tak betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog ’n verskil op Delportshoop te maak.





