|

AfriForum kap prof. Jansen oor kritiek op Afrikaanse onderwysinstellings

Professor Jonathan Jansen, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat en hoogleraar in Opvoedkunde aan die Stellenbosch Universiteit, het in ’n onlangse rubriek op News24 fel kritiek gelewer teen Afrikaanse hoëronderwysinstellings. Hierin voer hy onder meer aan dat studies aan dié instellings nie net studente benadeel en met ’n agterstand die lewe instuur nie, maar ook die land se “brose demokrasie” in gevaar stel. AfriForum verwerp dié standpunt en wys op navorsing wat die voordele van moedertaalonderrig beklemtoon.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die waarde van moedertaalonderrig lankal nie meer bloot ’n mening nie. “Talle studies toon dat leerders wat onderrig in hul moedertaal ontvang, akademies beter presteer,” verduidelik sy.

Die voordele strek selfs verder as net die blote akademiese voordeel, benadruk Bailey. “Moedertaalonderrig versterk selfvertroue, identiteit, deelname in die klaskamer en uiteindelik ’n leerder se vermoë om sy of haar volle potensiaal te bereik.”

Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) leer kinders vinniger, verstaan hulle nuwe konsepte beter én neem hulle meer aktief aan die leerproses deel wanneer hulle onderrig in hul moedertaal ontvang.

Moedertaalonderrig stel leerders boonop ook in staat om volwaardig aan die samelewing deel te neem, dit versterk hul kulturele identiteit en bevorder wedersydse begrip tussen gemeenskappe.

Navorsing wat onderneem is deur akademici verbonde aan die Universiteit van Dhaka in Bangladesj en die Universiteit van New South Wales in Australië toon verder dat die onderdrukking van inheemse tale verreikende negatiewe gevolge vir moedertaalsprekers kan inhou. Dit sluit onder meer in identiteitsverwarring, ’n swakker selfbeeld en ’n aansienlik groter risiko vir selfdood. Volgens dié navorsing is kinders wie se moedertaal onderdruk word, tot ses keer meer geneig om selfdood te pleeg.

In sy News24-artikel sinspeel Jansen daarop dat mense wat die Afrikaanse kultuur wil bewaar en in hul moedertaal wil studeer, op een of ander manier terughunker na apartheid. Bailey verwerp dié stelling ten sterkste. Sy meen die rede waarom Afrikaners juis Afrikaanse onderriginstellings verkies, het niks met apartheid te doen nie.

“Die behoefte om in jou moedertaal te leer en kultureel tuis te voel, is juis wat Afrikaanse onderriginstellings vir baie studente aantreklik maak. Om jou eie kultuur uit te leef of daarin tuis te voel, beteken geensins dat jy dit as verhewe bo enige ander kultuur beskou nie. Inteendeel, dit is heeltemal normaal en gesond om jou taal en kultuur te koester. Wat wél verkeerd is, is om jou kultuur op ander af te dwing of iemand anders se kultuur as minderwaardig af te maak,” benadruk Bailey.

Jansen voer verder aan dat eksklusief Afrikaanse universiteite ’n bedreiging vir die demokrasie inhou. Bailey verwerp ook dié bewering.

“Die Grondwet skep juis ruimte vir gemeenskappe om hul eie instellings te vestig en om keuses oor hul onderwys uit te oefen. Dit is die wese van ’n demokrasie. Vandag kan studente boonop by talle instellings aanlyn studeer vanuit die gemak van hul eie huis. Keuse bestaan dus reeds op verskeie vlakke, en mense behoort die vryheid te hê om die opsie te kies wat die beste by hul behoeftes pas,” verduidelik sy.

“Waaroor ek en Jansen wel saamstem, is dat elke student self behoort te kan besluit waar hy of sy wil studeer. Die probleem ontstaan wanneer iemand daardie keuse vir ander wil beperk of voorskryf. Hy maak aannames oor watter keuses aanvaarbaar is en sluit daarmee alternatiewe uit. Dit is nie in ooreenstemming met die beginsel van vrye keuse nie. Moedertaalonderrig is nie ’n probleem wat reggestel moet word nie, maar ’n oplossing wat beskerm en uitgebou behoort te word. Die enigste volhoubare manier om moedertaalonderrig oor die lang termyn te verseker, is deur enkelmedium-onderriginstellings,” sluit Bailey af.

News24-intekenare kan Jansen se artikel hier lees.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners