|

’n Krisis erger as beurtkrag: 86% van rioolaanlegte stort besoedelde water in riviere, bevind nuwe AfriForum-verslag

Marais de Vaal (Afrikaans)

Alhoewel ’n groot persentasie watermonsters wat van munisipale drinkwater geneem is, veilig vir menslike gebruik is, bly die feit staan dat 94 uit 109 (86%) rioolsuiweringsaanlegte afvalwater wat steeds met riool besoedel is, in waterbronne stort. Hierdie onrusbarende bevindinge uit AfriForum se jongste watergehaltewaarnemingsverslag, wat vandag vrygestel is, bewys dat terwyl die land se waterstelsel stabiel op die oppervlak blyk te wees, die riool in damme en riviere die fondament van watersekerheid in Suid-Afrika ondermyn.

AfriForum se 2025-watergehaltewaarnemingsverslag is saamgestel deur munisipale drinkwater- en behandelde rioolmonsters te toets wat gedurende Augustus deur die organisasie se netwerk van 160 takke versamel is. Vanuit die watermonsters wat van 175 dorpe en stede geneem is, het 88% water gelewer wat veilig is vir menslike gebruik. Hierdie bevindinge is soortgelyk aan dié wat in 2024 aangeteken is (87%-voldoening). Slegs 14% van rioolsuiweringsaanlegte het egter skoon genoeg afvalwater gelewer om veilig in die omgewing te stort.

“Die oënskynlike stabiliteit in drinkwatergehalte is niks om te vier nie. Dit wankel op ’n toenemend brose grondslag wat ’n ernstige ineenstorting in die res van die stelsel verberg,” verduidelik Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

“Terwyl die meeste munisipaliteite daarin slaag om drinkwater binne wettige perke te hou, veroorsaak die volslae mislukkings van rioolsuiweringsaanlegte dat die riviere en damme wat hierdie water voorsien, op grootskaal besoedel word. Provinsies soos die Vrystaat en die Oos-Kaap het in die afgelope vyf jaar wat AfriForum watermonsters toets, nie ’n enkele geval opgelewer waar behandelde riooluitvloeisel aan die nodige vereistes voldoen nie.”

Selfs die ouditeur-generaal se verslag oor waterdienste-owerhede se voldoening aan wetlike vereistes vir die 2023/2024-boekjaar, wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is, beklemtoon die gevolge van swak waterbestuur. Dit het bevind dat 99% van rioolsuiweringsaanlegte tekortskiet by ten minste een kwaliteitstandaard vir afvalwater en dat hierdie onbehandelde afvalwater ekosisteme, gesondheid en die kwaliteit van drinkwater benadeel.

De Vaal sê hierdie bevindinge weerspieël die ernstige mislukkings van munisipaliteite, wat met ’n beperkte begroting poog om kraanwater aan wetlike vereistes te laat voldoen omdat die gevolge om nie daaraan te voldoen nie, onmiddellik en sigbaar is. Alle ander fasette van die waardeketting buiten ’n watersuiweringsaanleg, insluitend verouderende pype; die toestand van pompstasies en reservoirs; en veral rioolsuiwering en die beskerming van waterbronne, word toegelaat om te versleg. Die resultaat is niks meer as ’n gevaarlike werklikheid wat onder die voorwendsel van dienslewering versteek word nie.

“Hierdie benadering is gevaarlik en onvolhoubaar,” waarsku De Vaal. “Die huidige voldoeningsyfer vir drinkwater beteken steeds dat een uit elke agt mense met toegang tot munisipale kraanwater moontlik in 2025 aan onveilige drinkwater blootgestel is. Dit laat ook die breër samelewing om die gevolge te dra van besoedelde riviere en damme wat huishoudelike gebruik, nywerheid, landbou en voedselproduksie moet ondersteun.”

Gebaseer op AfriForum se ontleding van die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste, voer De Vaal aan dat die krisis nie gewortel is in ’n gebrek aan wetgewing nie, maar in die afwesigheid van basiese bestuur. “Water- en sanitasiedienste stort in duie waar daar geen onderhoud, geen tegniese vaardighede en geen gevolgbestuur is nie. Die wetsontwerp poog om hierdie chroniese operasionele, finansiële en verkrygingsmislukkings reg te stel, maar ignoreer die feit dat sommige munisipaliteite reeds veilige drinkwater en behandelde afvalwater binne die huidige wetlike raamwerk verskaf. Om die agteruitgang om te keer, vereis nie meer papierwerk nie. Dit vereis bevoegdheid en verantwoordbaarheid.”

Die rampspoedige omvang van die onderliggende mislukkings in munisipale bestuur word ook breedvoerig in die ouditeur-generaal se verslag onthul. Volgens die verslag het 26% van munisipaliteite geen ontwikkelingsplanne vir waterdienste nie; gemiddelde besteding aan onderhoudswerk is slegs 3% van munisipaliteite se batewaarde, heelwat onder die wêreldwye maatstaf van 8%; 30 munisipaliteite het geen planne om onderhoudswerk te doen nie; en 82% van waterinfrastruktuurprojekte het vertragings ervaar.

“Die gehalte van drinkwater hang uiteindelik af van die toestand van die natuurlike bronne waaruit dit verkry word. Wanneer watersuiweringsaanlegte water uit riviere en damme onttrek wat deur riool besoedel word, neem hulle vermoë om skoon water te verskaf, drasties af. Die koste van die behandeling van toenemend besoedelde water styg ook, soos blyk uit onlangse verslae van waterrade wat verwag dat grootmaatwatertariewe volgende jaar met 10% of meer sal styg – ’n koste wat munisipaliteite onvermydelik aan verbruikers sal oordra. As hierdie tendens voortduur, sal die waterkrisis die energiekrisis oortref,” sê De Vaal.

AfriForum doen daarom ’n beroep op gemeenskappe om ’n prominente rol te speel in die beskerming van hul eie watersekerheid. Die regering het bewys dat dit hierdie krisis nie op sy eie kan oplos nie. Gemeenskappe moet aktiewe bewaarders word van die stelsels wat hulle onderhou. AfriForum se watergehaltewaarnemingsverslag gee gemeenskappe die bewyse wat hulle nodig het om die mislukkings wat openbare gesondheid in gevaar stel, te monitor en dit uit te daag.

Agtergrond:

AfriForum se 2025-watergehaltewaarnemingsverslag, voorheen bekend as die blou-en-groendruppelverslag, vervul ’n belangrike waghondrol wat vervalle stelsels blootlê en onderpresterende owerhede aanspreeklik hou. Dit is die 13de jaar wat AfriForum onafhanklike landwye watertoetse uitgevoer het om die publiek betroubare inligting oor die stand van munisipale drinkwater en rioolbehandeling te gee.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf