Water, kraan, kraanwater
| | | |

AfriForum eis dat MRK en kie by Upington-waterkrisis ingryp ná versoeke aan munisipaliteit op dowe ore val

AfriForum het vandag die voortgesette waterkrisis in Upington en omliggende woonbuurte na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) geëskaleer vir dringende ingryping, nadat die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit die organisasie se versoeke geïgnoreer het. AfriForum het gister ’n formele brief aan die munisipale bestuurder gerig waarin antwoorde rakende die wateronderbreking geëis is. Die munisipaliteit is 24 uur gegee om skriftelik te reageer maar teen 12:50 vandag is geen reaksie of selfs ’n erkenning van ontvangs gekry nie.

Die wateronderbreking is ook na die Z.F. Mgcawu Distriksmunisipaliteit, die Noord-Kaapse premier, die Noord-Kaapse Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Cogta) en die Noord-Kaapse Departement van Water en Sanitasie verwys om in te tree en die munisipaliteit tot verantwoording te roep.

Volgens inwoners duur die wateronderbreking alreeds verskeie dae – met baie gebiede wat lae tot geen watertoevoer het nie – te midde van uiterste hitte, wat inwoners se gesondheid in gevaar stel. Boonop is alternatiewe watervoorsiening oneweredig versprei met sommige gemeenskappe wat geen toegang tot noodwaterpunte het nie.

AfriForum is verder bekommerd dat die oorsaak van die wateronderbreking nog nie amptelik vasgestel is nie; dat geen tydlyn met betrekking tot herstelwerk aan inwoners gekommunikeer is nie; dat geen omvattende plan rakende noodwatervoorsiening aan alle geaffekteerde gebiede bekend gemaak is nie; en dat geen verantwoordelike munisipale amptenaar aangewys is om die krisis te bestuur en met die gemeenskap te kommunikeer nie.

“Water is ’n grondwetlike reg, nie ’n voorreg nie. Die volgehoue gebrek aan water, gekombineer met swak kommunikasie en ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid, dui op ’n ernstige diensleweringsmislukking wat onmiddellike ingryping vereis,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

AfriForum eis steeds skriftelike terugvoer van die Dawid Kruiper-munisipaliteit op sy vrae. Die organisasie sal die situasie voortdurend moniteer en verdere stappe oorweeg indien die munisipaliteit nie aan hierdie basiese vereistes voldoen nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf