Geskiedkundige vennootskap verseker opleiding in groenteproduksie vir gemeenskapslede
Gemeenskapslede van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap in Tsheseng, Phuthaditjhaba in die Vrystaat het gister opleiding in groenteproduksie van AfriForum ontvang, wat gefokus het op herlewingslandboumetodes wat aangepas is vir gemeenskappe met min hulpbronne tot hul beskikking. Die opleiding het grondvoorbereiding en verbetering van grondgesondheid ingesluit, asook die aanwending van ’n deklaag vir beter waterbehoud, temperatuurstabilisering en onkruidbeheer, aanplanting, algemene versorging en bestuur én lewensvaardighede. Dit is die volgende stap in die proses om die gemeenskap te ondersteun om hul selfversorgendheid en selfstandigheid te versterk – ’n proses wat onderneem word deur die geskiedkundige vennootskap wat gesmee is onder die leiding van die uitvoerende komitee van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL), met AfriForum, Saai en die kantoor van Morena e Moholo (hoof tradisionele leier) Montoeli Mota van die Batlokoa Ba Mota as die ander vennote.
Dit volg ná die vennootskap vroeër die suksesvolle implementering van ’n sonkrag-aangedrewe watervoorsieningstelsel aangekondig het, wat betroubaar water aan die plaaslike groentetuin verskaf. Dié tuin gaan groente aan die plaaslike voedingskema lewer wat tans groentetekorte ervaar. Die geskiedkundige vennootskap is tot stand gebring as deel van die heel eerste jaarlikse Lenaka-gedenklesing wat aan die einde van 2024 by Manthatisi Hoërskool in Sedibeng gehou is.


“Dit is bemoedigend om die volgende positiewe impak van die vennootskap op ons gemeenskap te sien. Bereidwilligheid, toewyding, kennis en vaardighede is die sleutel tot die sukses van enige projek. Ons is dankbaar teenoor die vennote dat hulle ons gemeenskapslede toerus met die kennis en vaardighede wat nodig is om groente te produseer binne ons lae-hulpbron-omgewing. Ek sien baie uit na die eerste oes wat geproduseer gaan word,” sê Morena e Moholo Montoeli Mota, Morena e Moholo van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap.
“Die jaarlikse Lenaka-gedenklesing dien as ’n platform om ons erfenis en kulturele identiteit te vier terwyl ons terselfdertyd sosio-ekonomiese ontwikkeling binne tradisionele gemeenskappe bevorder. Die NHTKL volg ’n benadering van die versterking van vennootskappe, die verbetering van institusionele kapasiteit en die ontsluiting van geleenthede vir volhoubare groei. Dit is bemoedigend dat hierdie inisiatief gelei het tot opleiding en die oordrag van vaardighede vir hierdie landelike gemeenskap. Dit sal bydra tot ’n blywende positiewe nalatenskap,” sê Kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL.
“Die opleiding gaan oor meer as net die oordrag van praktiese en tegniese kennis en die aanleer van vaardighede oor volhoubare en winsgewende produksie van groente. Dit gaan ook daaroor om gemeenskapslede toe te rus met lewensvaardighede wat positief op hul alledaagse lewe sal inwerk. Die Kultuurgemeenskappe-netwerk, wat tussen voetsoolvlakkultuurgemeenskappe gebou is op grond van wedersydse erkenning en respek, word al hoe sterker en baan die weg vir ’n voorspoedige toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe oor die land heen,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
“Ons is dankbaar vir hierdie geleentheid om gemeenskapslede in ’n diep landelike, kommunale gebied toe te rus met die kennis en vaardighede wat hul vermoë sal versterk om wanvoeding te bekamp en ’n lewensbestaan deur landbou te maak,” sê dr Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboernetwerk Saai.





