55 AfriForum-buurtwaglede patrolleer strate van Noordwes-dorpe
Die AfriForum-buurtwagte in Bloemhof, Christiana, Delareyville, Sannieshof en Vryburg het verlede week aan die burgerregteorganisasie se jaarlikse massapatrollie deelgeneem deur die strate van hul dorpe van sononder te beskerm. Dié buurtwagte, verskeie privaat sekuriteitsdienste en selfs die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het kragte saamgesnoer en aan die patrollie deelgeneem.
Altesaam 55 patrolleerders het in die onderskeie dorpe patrollies gery en gesamentlik 815 km in 30 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog om misdadigheid te ontmoedig. Gevolglik is geen ernstige insidente tydens die patrollies aangemeld nie.
“Die Stellaland-buurtwagte sal voortdurend patrollies in samewerking met die SAPD en ander privaat veiligheidsdienste ry om misdaad hok te slaan en veiligheid te bevorder. Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Benewens die patrollies wat AfriForum se Stellaland-buurtwagte gery het, het die takke voortgegaan om meer as nege verskillende gemeenskapsprojekte aan te pak. Die takke het onder meer slaggate herstel en broodnodige donasies aan diereskuilings gemaak. Meer as R20 000 is aan hierdie projekte spandeer in ’n poging om die toestande van plaaslike gemeenskappe te verbeter.
“AfriForum se Stellaland-takke maak seker dat gemeenskappe die nodige hulp en ondersteuning kry wat dikwels op klein dorpe ontbreek. Hierdie projekte is juis daarop gemik om uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar, die hoof te bied. AfriForum sal egter voortgaan om druk op munisipaliteite te plaas om hul grondwetlike pligte teenoor inwoners na te kom,” sluit Nel af.
Raak vandag nog by AfriForum se takke of buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.



