Gesamentlike optrede lei tot 88 arrestasies, wys samewerking is nodig in stryd teen misdaad
AfriForum het op Saterdag 4 Julie saam met verskeie veiligheidsrolspelers ’n gesamentlike wetstoepassingsoperasie in die noorde van Pretoria uitgevoer. Gedurende dié operasie is 88 arrestasies gemaak. Dié operasie het opnuut bewys dat misdaad doeltreffend bekamp kan word wanneer wetstoepassingsagentskappe, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies hul hulpbronne en kundigheid saamvoeg om ’n verskil te maak.
Talle wetstoepassingsagentskappe, privaat veiligheidsmaatskappye en gemeenskapsveiligheid rolspelers het aan hierdie operasie deelgeneem, waar onder die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Tshwane Metropolitaanse Polisiedepartement (TMPD), die nasionale verkeerspolisie, die Immigrasiediens-afdeling van die Departement van Binnelandse Sake, gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), Prosec CITR247, Pro Shield se hommeltuig-eenheid, Amandasig Action Group, en verskeie AfriForum-strukture soos die honde-eenheid van AfriForum se Brits-buurtwag, die Noord van die Berg-, Groter Moot-, Centurion- en Wes-Moot-buurtwagte.
Die operasie was in drie afdelings verdeel: ’n padblokkade in Paul Kruger-straat, ’n voldoeningsoperasie in die noorde van Pretoria en ’n voldoeningsoperasie in Akasia.
Een van die operasie se belangrikste suksesse het tydens die voldoeningsoperasie in Akasia plaasgevind toe beamptes ’n verdagte voertuig gedurende ’n padblokkade afgetrek het. Gedurende die deursoeking van die voertuig is twee vuurwapens aangetref, waarna ’n ontvoerde persoon in die kattebak ontdek is.
Drie verdagtes is onmiddellik in hegtenis geneem. Lede van AfriForum het gehelp om die toneel te beveilig en ondersteuning aan die wetstoepassers te bied, waarna die SAPD die toneel oorgeneem en die strafregtelike ondersoek voortgesit het.
Daar is talle arrestasies gedurende die operasie gemaak, waar onder:
- 41 onwettige immigrante;
- 34 arrestasies vir dronkbestuur;
- 5 arrestasies vir die besit van dwelms;
- 3 arrestasies wat met ‘n ontvoeringsaak verband hou;
- 2 arrestasies vir die gebruik van alkohol in die openbaar;
- 1 arrestasie vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen;
- 1 arrestasie vir die besit van gesteelde goedere; en
- 1 arrestasie vir die verkoop van drank sonder ‘n geldige lisensie.
Voorts is daar ook vier onwettige tavernes gesluit en een onwettige tweedehandse handelaar se bedrywighede beëindig.
“Hierdie operasie is nóg ’n bewys dat misdaad nie deur een organisasie alleen bekamp kan word nie. Wanneer die SAPD, TMPD, staatsdepartemente, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies hul hulpbronne saamspan, word misdadigers se bewegingsruimte aansienlik beperk en is gemeenskappe veiliger,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder vir Pretoria
Volgens Hemmens vervul gemeenskapsorganisasies ’n onmisbare rol as die eerste buffer teen misdaad.
“Gemeenskapsorganisasies en buurtwagte is daagliks op straat, ken hul woonbuurte en is dikwels die eerste oë en ore wat verdagte optrede opmerk. Hulle speel ’n deurslaggewende rol deur vinnig inligting deur te gee, tonele te beveilig, wetstoepassers te ondersteun en hulpbronne te mobiliseer totdat die bevoegde owerhede die situasie volledig kan hanteer. Hierdie vennootskap tussen die gemeenskap, die privaat sektor en wetstoepassers is van kardinale belang om misdaad daadwerklik hok te slaan.”
AfriForum spreek sy waardering uit teenoor elke beampte, veiligheidsmaatskappy, gemeenskapsorganisasie en vrywilliger wat aan die operasie deelgeneem het.
Die organisasie glo dat hierdie tipe samewerking die bloudruk is vir veiliger gemeenskappe en sal voortgaan om sy hulpbronne beskikbaar te stel om saam met alle rolspelers ’n veiliger toekoms vir gemeenskappe te help bou.



