Laerskool Laeveld- en Hoërskool Nelspruit-debatspanne kraai koning in Mpumalanga
Laerskool Laeveld en die junior en senior debatspanne van Hoërskool Nelspruit het hierdie week koning gekraai tydens die provinsiale uitdunne van AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir laer- en hoërskole in Mpumalanga. Uitdunne word vanjaar in ses provinsies aangebied en wenners en naaswenners van elke streek dring deur na die nasionale finale vir hoër- en laerskole wat later vanjaar in Pretoria gehou sal word.
Die Mpumalanga-ronde van die kompetisie is Woensdag (29 Julie) by Hoërskool Nelspruit aangebied en het vanjaar aan 48 leerders van vyf verskillende skole – twee laer- en drie hoërskole – die kans gegee om hul debatsvaardighede op die proef te stel. Die deelnemende skole was Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Lydenburg, Hoërskool Bergvlam, Laerskool Laeveld en Laerskool Nelspruit. Op die dag het elkeen van die 23 spanne aan drie debatte deelgeneem en gedebatteer dat dit klap oor uiteenlopende aktuele onderwerpe binne hul verwysingsraamwerk.
Volgens Nicolene Müller, projekkoördineerder vir Onderwys by AfriForum, is Dink of Sink ’n gewilde debatskompetisie wat vanjaar reeds ’n dekade lank aangebied word. “Die doel van die kompetisie is nie net om Afrikaanse debatkuns op laerskool- hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder nie, maar ook om deelnemers toe te rus met vaardighede wat hulle in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel, soos kritiese denke, selfvertroue en navorsingsvaardighede,” verduidelik Müller.
Die gehalte van debatvoering onder deelnemende leerders van Mpumalanga het die beoordelaars beïndruk. “Die leerders het hul taak met vernuf aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om doeltreffend te debatteer, en krities én op hul voete te dink duidelik ten toon gestel,” meen sy.
In die laerskoolkategorie (vir graad 6- en 7-leerders) het Laerskool Laeveld (span 1) se Lara Mouton, Mia Erasmus en Simon Scheepers met die louere weggestap. Laerskool Nelspruit (span 1) se Luan Badenhorst, Kihan Marais en George Neuhoff het as naaswenners uit dié taai debatstryd getree.

In die junior kategorie vir hoërskole (vir graad 8- en 9-leerder) het Hoërskool Nelspruit (span 1) se Jeani Willemse, Leandri Pretorius en Miané van Niekerk koning gekraai, terwyl Hoërskool Nelspruit (span 2) se Elané Janse van Rensburg, Leilah du Plessis en Louis van der Walt met ’n tweede plek tevrede moes wees.


Hoërskool Nelspruit het ook in die senior kategorie vir hoërskole (vir graad 10-, 11- en 12-leerders) ’n eerste plek ingepalm. In dié afdeling is Hoërskool Nelspruit (span 1) se Alissa van Niekerk, Shayna Lea en Ude van Veenhuyzen as wenspan aangewys, terwyl Hoërskool Lydenburg (span 1) se André van der Walt, Iné Aucamp en Jané Lesch as die naaswenners aangewys is.


“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” sluit Müller af.



