10-jaar-bestuurderslisensies: Sê jou sê oor konsepwysigings, vra AfriForum
AfriForum moedig lede van die publiek aan om kommentaar te lewer op die voorgestelde wysigings aan die Nasionale Padverkeersregulasies 2000, wat op 17 Augustus in die Staatskoerant gepubliseer is. Dié voorgestelde wysigings verander die geldigheidstydperk van sommige bestuurderslisensiekaarte van vyf na tien jaar en spesifiseer hoe die besluit geïmplementeer sal word. Daar is nou geleentheid om kommentaar te lewer op die oorgangsmaatreëls en sommige bepalings van die nuwe geldigheidstydperk.
Die publikasie van hierdie konsepregulasies volg op die kabinet se besluit op 29 Julie dat bestuurderslisensies se geldigheidstydperk na tien jaar verleng kan word. Dít het weer gevolg op jare se openbare druk deur AfriForum en ander organisasies om hierdie uitkoms te bereik. AfriForum het ook op 30 Julie ’n beroep op die Departement van Vervoer gedoen om die kabinet se besluit so gou moontlik te implementeer.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is dit belangrik dat daar nie enige gebreke in hierdie opkomende regulasies is nie. “Die publiek is lank reeds honger vir lisensies wat langer geldig is, so daar moet nou verseker word dat geen tegniese gebreke tot verdere uitstel van hierdie besluit lei nie. Daarom moedig AfriForum lede van die publiek aan om ingeligte kommentaar te lewer,” verduidelik Boshoff.
Die konsepregulasies is beskikbaar by die volgende skakel. Kommentaar kan binne die volgende 30 dae aan CommentsNRTR@dot.gov.za gestuur word. AfriForum is intussen ook besig om volledige kommentaar voor te berei en sal dit openbaar beskikbaar stel.



