AfriForum en March and March vorm gesamentlike werkgroep tot voordeel van gemeenskappe
Die burgerregteorganisasie AfriForum en die organisasie March and March het vandag, tydens laasgenoemde se besoek aan AfriForum, samesprekings gevoer wat daarop gemik is om gemeenskappe en burgers op voetsoolvlak te bevoordeel. Tydens die vergadering is unieke en gemeenskaplike uitdagings en belange, sowel as moontlike oplossings en terreine van samewerking, bespreek. Jacinta Ngobese-Zuma, stigter van March and March, het dié organisasie se afvaardiging gelei en vergader met ’n AfriForum-afvaardiging onder leiding van die organisasie se uitvoerende hoof, Kallie Kriel.
Die organisering van gemeenskappe, kapasiteitsbou-inisiatiewe wat daarop gemik is om gemeenskappe se sosio-ekonomiese omstandighede binne die raamwerk van die wet te verbeter, die bevordering van moedertaalonderrig en doeltreffende, toeganklike onderwys, asook die bevordering van vreedsame naasbestaan, is as moontlike terreine vir samewerking geïdentifiseer. Voorts het die organisasies ooreengekom om gesamentlik regsake van wedersydse belang te ondersoek en mekaar te ondersteun in aangeleenthede wat verband hou met die oppergesag van die reg en die stryd teen misdaad in gemeenskappe, insluitende onwettige immigrasie.
Volgens Ngobese-Zuma is dit van kritieke belang om ’n verenigde Suid-Afrika te skep wat gegrond is op die waardes van ubuntu, respek vir gemeenskappe se kulturele en godsdienstige oortuigings, sowel as die oppergesag van die reg. Die Beweging se grondliggende waardes sluit universele menseregte vir alle Suid-Afrikaanse burgers in, met onderwys as ’n hoeksteen vir die nasie se sukses. Die Beweging glo dat stelsels geskep moet word om te verseker dat gemeenskappe saamwerk om die regering aanspreeklik te hou en toe te sien dat almal die oppergesag van die reg handhaaf.
“Die Beweging glo ook dat swak grensbeheer ernstige gevolge vir die sukkelende ekonomie inhou. Die skerp toename in die handel van onwettige goedere raak besighede en kan tot werksverliese lei. Misdaad teister steeds gemeenskappe, en burgerlike bewegings moet saamwerk om stelsels in plek te stel wat veiliger gemeenskappe sal verseker. Die Beweging glo dat korrupsie en onbevoegdheid by sommige, of moontlik talle, regeringsamptenare dringende aandag vereis, en dat samewerking tussen verskeie gemeenskapsgebaseerde organisasies – wat nie deur eng politieke belange gedryf word nie – noodsaaklik is vir die uitwissing van wetteloosheid.”
“Die Beweging glo dat ’n gesonde verhouding tussen die twee instellings erkenning gee aan die feit dat, hoewel hulle baie gemeenskaplike belange deel, daar ook sake is waaroor hulle sal verskil. Die verhouding berus dus op wedersydse respek, waar albei partye instem om mekaar aan te vul en uit te daag in die nastrewing van die gedeelde doelwit – om ’n verenigde Suid-Afrika te bou wat diversiteit erken,” sê Ngobese-Zuma.

Kriel beklemtoon dat AfriForum reeds saam met verskeie organisasies en gemeenskappe werk wat deel in sy verbintenis tot die bou van ’n beter toekoms vir die land se mense. “’n Mens kan kies om saam te werk waar ons saamstem en gemeenskaplike belange deel. Ons kan nie toelaat dat verskille oor spesifieke sake in die pad staan van samewerking wat ons kinders sal bevoordeel nie. Soms is dit nodig om teen die regering se mislukkings te protesteer, maar dit is selfs belangriker om die hande aan die einde van ons eie arms te gebruik om die toekoms te bou wat ons graag wil hê. AfriForum het oor die afgelope 20 jaar ’n organisasie van die grond af opgebou tot een wat vandag sowat 300 000 lede het. Ons is bereid om openlik en nederig met March and March te deel wat vir ons gewerk het, en wat nie het nie. Ons sien daarna uit om met March and March saam te werk in hul poging om ’n gemeenskapsgerigte organisasie te vestig wat die lewe van gewone mense op voetsoolvlak sal verbeter,” sê Kriel.
Tydens die vergadering is verskeie uitdagings bespreek wat voortspruit uit regeringsmislukkings, insluitend die effektiewe ineenstorting van behoorlike grensbeheer en ontoereikende misdaadvoorkoming, wat gemeenskappe voortdurend blootstel aan die bedreiging van misdaad. Die mislukking van die openbare onderwysstelsel was nog ’n belangrike besprekingspunt.
Moontlike oplossings wat gemeenskappe self kan ontwikkel en implementeer, asook geleenthede vir samewerking, is ook bespreek. Dit sluit onder meer in die organisering van gemeenskappe en die identifisering van wettige maatreëls om gemeenskapsveiligheid te verbeter. Landbou-ontwikkeling, die behoud van kulturele identiteit en erfenis, onderwys, opleiding en vaardigheidsontwikkeling is ook bespreek as terreine waarop gemeenskappe ’n konstruktiewe rol kan speel.
Volgens Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, bou AfriForum, op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, goeie verhoudings met organisasies en kultuurgemeenskappe. “Ons doen hierdie werk omdat ons glo dat dit noodsaaklik is om die voorspoedige, vreedsame, naasbestaan van al die gemeenskappe in die land te verseker. Ons werk fokus op voetsoolvlak en daarom is ons ten diepste bewus van die uitdagings waarmee gewone mense en ook tradisionele leiers en hul gemeenskappe spesifiek mee te kampe het. Elke gemeenskap, organisasie en leier wat kies om verantwoordelikheid vir sy eie toekoms te neem en by te dra tot die bou van ’n beter toekoms vir ons kinders – gegrond op gesonde tradisionele waardes soos gesonde gesinne, verantwoordelikheid, medemenslikheid, respek en ’n gedeelde visie – is vir ons ’n belangrike bondgenoot. Dit is waarom AfriForum reeds samewerkingsooreenkomste aangegaan het en saamwerk met onder meer die AmaBhele KaJamangile, Seleka Barolong, Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi, Batlokoa Ba Mota, Batlharo Ba Ga Motlhware, Vulamehlo Kusile Organisation en die Royal Leaders of South Africa (ROLESA),” sê Uys.
“Swak regeringsbeleid en uitgediende ideologieë is die grondoorsaak van die uitdagings waaronder gemeenskappe in die SAOG-streek gebuk gaan. Die ANC-geleide regering doen niks om lande in die streek aan te moedig om beleid te aanvaar wat toestande in hul eie lande sou verbeter en die onwettige toestroming van Suid-Afrika sou bekamp nie. Trouens, in sekere opsigte volg die ANC soortgelyke vernietigende beleide wat bydra tot die probleme waarmee ons hier worstel. Dit is duidelik dat die ANC en die regering wat hy lei nie landsburgers se belange voorop stel nie, maar eerder hul eie belange en dié van hul jare lange politieke en ideologiese bondgenote. Diegene wat ’n mooi toekoms vir suidelike Afrika wil sien, sal regerings verantwoordbaar moet hou en terselfdertyd self verantwoordelikheid moet neem om daardie toekoms te bou,” sluit Kriel af.
AfriForum en March and March bevestig dat die belange van gemeenskappe en burgers ten alle tye vreedsaam en binne die raamwerk van die wet nagestreef moet word, en dat geweld en intimidasie geen plek in hierdie pogings het nie.



