|

AfriForum verwelkom afdanking van Mpumalanga Onderwys-amptenaar weens rekenaarsaak

Alana Bailey (Afrikaans)

AfriForum verwelkom die nuus dat die hoof finansiële beampte van Mpumalanga se Onderwysdepartement, Thokozile Ntuli, na afloop van ’n dissiplinêre proses ontslaan is. Haar afdanking hou verband met die omstrede verkryging van skootrekenaars deur die departement in Desember 2024.

In Februarie 2025 het AfriForum deur ’n anonieme fluitjieblaser van die departement se aankoop van 22 skootrekenaars teen ongeveer R91 482,50 elk bewus geraak en ’n PAIA-aansoek hieroor aan die Onderwysdepartement van Mpumalanga gerig. In Mei 2025 het die premier van dié provinsie ’n verslag oor hierdie verkwistende spandering uitgereik en onderneem dat dissiplinêre optrede teen die verantwoordelikes sal volg.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, kan die wanaanwending van fondse deur onderwysowerhede nie geduld word nie. “Dit geskied ten koste van die toekoms van ons jeug en benadeel die land se onderwysstelsel, wat reeds kommerwekkend swak presteer, net nog verder.” AfriForum glo dat die afdanking van Ntuli ’n sterk waarskuwing aan ander amptenare oor etiese spandering en aanspreeklikheid sal stuur.

Dit is verblydend dat die departement, benewens die dissiplinêre prosesse teen die betrokkenes, reeds daarin kon slaag om sowat 80% van die bedrag wat aan die verskaffer van die rekenaars betaal is, te verhaal. Die departement het ook skynbaar intussen ’n oudit-aksieplan ontwikkel en geïmplementeer wat duidelike en meetbare ingrypingstappe insluit om interne beheermaatreëls te versterk. AfriForum beveel aan dat daar terugwerkend na ander tenderprosesse in die departement gekyk sal word om seker te maak dat indien nog onlangse aankope soortgelyk teen buitensporige pryse gemaak is, die fondse sover as moontlik verhaal word en die diensverskaffers op ’n swartlys geplaas word.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners