Welkom se nuwe buurtspan maak reeds groot verskil in dié gemeenskap
Te midde van die voortdurende agteruitgang van dienslewering en die swak toestand waarin die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit verkeer, het AfriForum besluit om sy teenwoordigheid in Welkom te versterk deur ’n toegewyde buurtspan op die been te bring.
In die kort tyd wat dié span aan die werk is, is daar reeds verskeie suksesse behaal. In die afgelope paar weke het die buurtspan onder meer slaggate by die Primêre Skool Naudeville opgevul asook ‘n stopteken oorgeverf wat vervaag het. Die vervaagde stopteken het ’n veiligheidsrisiko vir leerders en motoriste ingehou, maar is danksy die leksel verf weer sigbaar gemaak.
Die buurtspan is tans besig met verskeie ander projekte wat daarop gemik is om die veiligheid en netheid van die gemeenskap te verbeter. Hierdie projekte sal in die komende maande uitgerol word en vorm deel van AfriForum se volgehoue verbintenis om gemeenskappe te bemagtig en self verantwoordelikheid vir hul omgewing te neem.

“Ons is baie opgewonde oor die positiewe impak wat die nuwe buurtspan reeds in ’n kort tydperk gemaak het. Die behoefte aan gemeenskapsbetrokkenheid en selfdoenaksies is groter as ooit tevore. Ons sien hoe inwoners bereid is om saam te werk om Welkom weer ’n plek te maak waarop almal trots kan wees,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
AfriForum nooi die inwoners van Welkom uit om by die buurtspan betrokke te raak en dié span se projekte te ondersteun. Deur saam te werk kan die gemeenskap ’n daadwerklike verskil maak waar plaaslike owerhede tekortskiet. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog ’n verskil te maak.



