AfriForum-herwinningsdienste: ’n Groeiende (én groener) suksesverhaal
AfriForum het binne die eerste vyf maande van 2026 drie nuwe herwinningsprogramme in Knysna, Rustenburg én Potchefstroom op die been gebring en beoog om voor die einde van die jaar nog 15 soortgelyke programme te vestig. Saam met die organisasie se uiters suksesvolle herwinningsprogram in Centurion bied hierdie AfriForum-programme ’n praktiese antwoord op die land se groterwordende vullisprobleem.
Herwinning: ’n Wenresep vir die gemeenskap
AfriForum pak jare lank reeds skoonmaakaksies aan, maar dit het gou duidelik geword dat opruiming van vullis in strate en ander openbare ruimtes soos parke, net ’n gedeeltelike oplossing vir ’n veel groter probleem bied. Meer moes eenvoudig gedoen word om die vullisprobleem te takel. Dié besef het uiteindelik aanleiding gegee tot die ontstaan van die organisasie se herwinningsprogramme.
“AfriForum bied herwinningsdienste aan omdat verantwoordelike afvalbestuur oor meer gaan as om bloot vullis van die sypaadjie af te verwyder. Herwinning help om die hoeveelheid afval wat op stortingsterreine beland te verminder, besoedeling te beperk en gemeenskappe aan te moedig om beter na hul eie omgewing om te sien,” verduidelik Johann Weber, AfriForum se bestuurder vir selfstandigheidontwikkeling.
AfriForum se Centurion-tak se herwinningsprojek is al sowat vyf jaar gelede op die been gebring, terwyl die organisasie se takke in Knysna, Rustenburg en Potchefstroom in onderskeidelik Januarie, Maart en Mei vanjaar ook hul herwinningsprojekte afgeskop het. Intussen word verdere herwinningsprojekte vir verskeie dorpe en stede aan die Oos-Rand, Mpumalanga, Noord-Kaap, Vrystaat, Wes-Kaap en Oos-Kaap beplan.
“Ons benadering is gegrond op selfstandigheid, omgewingsverantwoordelikheid en gemeenskapsbou. Herwinning skep ook geleenthede vir plaaslike werkskepping en help om praktiese, volhoubare oplossings binne die gemeenskap te bou,” sê Weber.
Weber hou vol dat gemeenskappe nie net op diensleweringsprobleme moet reageer nie, maar ook beter, skoner en meer volhoubare praktiese oplossings moet bou waar hulle woon – en dit is juis wat AfriForum se takke op grondvlak doen.
Spanwerk wat die herwinningsdroom laat werk
AfriForum se eie buurtspanne vorm ’n kritieke skakel in die organisasie se herwinningsprogramme en behartig self die herwinning. Die grootte van hierdie spanne varieer en is saamgestel uit persone vanuit die gemeenskap wat voltyds in AfriForum se diens is. Benewens herwinning herstel dié spanne onder meer ook slaggate, verf verweerde padmerkers, sny gras en pak skoonmaakaksies aan.
Plaaslike munisipaliteite is telkens ook deel van die breër span wanneer dit kom by AfriForum se herwinnings- en ander gemeenskapsprojekte.
Volgens Weber is verskeie munisipaliteite reeds volhoubare vennote van AfriForum se gemeenskapsprojekte en verseker samewerking tussen die burgerlike samelewing en plaaslike regering dat dienste op grondvlak reeds verbeter.
Die memorandum van verstandhouding wat AfriForum en die Knysna-munisipaliteit in Mei 2026 onderteken het, is een van dié suksesverhale en formaliseer samewerking en projekte ter ondersteuning van ontwikkeling en vooruitgang in dié gemeenskap op die Tuinroete. AfriForum en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het reeds ook in 2024 ’n soortgelyke ooreenkoms gesluit.
Hierdie benadering is volgens Weber die oplossing vir die toenemende verval wat in munisipaliteite aangeteken word.
“Ek glo ons het die punt bereik waar ons moet vrede maak met die werklikheid dat die staat nie meer oor die nodige hulpbronne en vermoëns beskik om volhoubare dienste te lewer nie. Die monopolie op dienste moet verbreek word om plek te maak vir gemeenskapsgedrewe oplossings in samewerking met die privaat sektor. AfriForum posisioneer homself om hierdie rol met uitnemendheid te vervul. Die eerste stap is volhoubare, betroubare en bekostigbare vullisverwydering- en herwinningsdienste. Hierdie dienste sal uitgebrei word na ander dienste sodat ons selfstandige ruimtes vir ons lede kan vestig,” sluit Weber af.
Besoek www.afriforumdienste.co.za om meer oor AfriForum se vullisverwydering- en herwinningsdiente uit te vind.



