AfriForum Dienste verwyder 64 ton vullis en sny gras by parke gedurende Maart
AfriForum Dienste in Bloemfontein het gedurende Maart 64.16 ton vullis verwyder en 64 874,50 m² se gras gesny by parke, oop velde en groen stroke.
Hierdie spanne word genoop om in te gryp weens die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se versuim om hul verpligtinge ten opsigte van dienslewering na te kom.
“Die realiteit is dat die metro eenvoudig nie meer sy werk doen nie. Openbare ruimtes word verwaarloos, wat direkte risiko’s vir veiligheid en gesondheid skep. Ons kan nie net arms gevou sit en toekyk hoe dinge agteruit gaan nie, ons rol eerder moue op en spring self in om ’n verskil te maak,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
Wanneer ’n omgewing netjies is dra dit daartoe by dat onwettige storting verhoed word, verminder brandgevare en verminder geleenthede om misdade te pleeg.
AfriForum spreek ook sy opregte dank uit teenoor elke lid wat reeds aangesluit het en aktief bydra om hul huis en woonbuurt skoner, netjieser en veiliger te maak – wat projekte en dienste soos dié moontlik maak.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners om nie passief te bly nie, maar om aktief deel te word van die oplossing. Besoek www.afriforumdienste.co.za vir meer inligting.



