Vuurwapenbeheerkrisis is regering se verantwoordelikheid, nie wetsgehoorsame burgers s’n nie – AfriForum
Die huidige krisis rakende vuurwapenbeheer in die land verg nie meer wetgewing vir burgerlike vuurwapenbesit nie, maar eerder beter bestuur van die staatsarsenaal. Dít is AfriForum se mening na aanleiding van kommerwekkende berigte oor gesteelde Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) -vuurwapens, insluitend ’n granaatwerper, wat in die besit van misdadigers gevind is. Hierdie voorval en onlangse parlementêre onthullings rakende grootskaalse verliese van Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) -vuurwapens dui op die feit dat die land se mislukking in vuurwapenbeheer gewortel is in die onvermoë om die nodige beheer uit te oefen op die vuurwapens wat in staatsentiteite se besit is.
Volgens parlementêre reaksies is meer as 154 vuurwapens wat aan die SAPD behoort het, in die afgelope boekjaar van misdadigers teruggevind. Daarbenewens is 205 vuurwapens wat aan private sekuriteitsmaatskappye behoort het, ook in misdadigers se hande gevind. Hierdie syfers dui op ’n sistemiese ineenstorting in vuurwapenberging, -beheer en -aanspreeklikheid binne die einste instellings wat verplig is om openbare veiligheid te verseker.
AfriForum glo dit is beide irrasioneel en gevaarlik dat die voortdurende wetgewende debat rondom die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer steeds fokus op die verskerping van beperkings op wettige vuurwapeneienaars, terwyl die regering self deurlopend versuim om sy eie arsenale te beveilig.
“Dit is onverdedigbaar dat vuurwapens uit polisie-opbergings en militêre voorraad verdwyn, net om weer in die hande van misdadigers te verskyn. Dit is nie ’n probleem van burgerlike eienaarskap nie – dit is ’n staatsbeheer mislukking,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
Die organisasie waarsku dat hierdie herhaalde mislukkings ’n direkte bedreiging vir openbare veiligheid inhou en vertroue in wetstoepassingsinstellings ondermyn. Elke vuurwapen wat uit amptelike bewaring verlore gaan en later in misdaad gebruik word, weerspieël óf nalatigheid en korrupsie óf ernstige sistemiese wanfunksionering.
AfriForum voer verder aan dat dit roekeloos en ideologies gedrewe is om wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens 60 van 2000 na te streef wat bykomende laste op wetsgehoorsame burgers plaas, terwyl die regering reeds bewys het dat hy nie in staat is om sy eie wapens te beveilig nie.
“Wetgehoorsame vuurwapeneienaars word geteiken met al hoe strenger beheermaatreëls, terwyl staatsuitgereikte vuurwapens gereeld na misdadige netwerke herlei word. Dit is ’n beleidsteenstrydigheid wat niks doen om geweldsmisdaad te verminder nie,” voeg Broodryk by.
AfriForum waarsku dat sonder verantwoordingsbesef en betekenisvolle hervorming binne staatsinstellings, enige wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens bloot simptome sal aanroer terwyl die oorsake van vuurwapenverspreiding onaangeraak sal bly.
“Openbare veiligheid sal nie herstel word deur verantwoordelike burgers te ontwapen nie. Dit sal slegs bereik word wanneer die regering verantwoordelikheid neem vir die beveiliging van staatswapens en die herstel van funksionele beheerstelsels,” sluit Broodryk af.



