| | |

Splinternuwe Potchefstroom-buurtspan woeker om skole te help

AfriForum se nuwe Potchefstroom-buurtspan het gedurende Mei amptelik hul bedrywighede afgeskop by Laerskool Bailliepark en Laerskool Mooirivier. Dié buurtspan, wat deel vorm van die Potchefstroom-tak, het ten doel om op te tree daar waar die munisipaliteit hul plig versaak. Dit het ook ’n werksgeleentheid geskep vir twee mans wat graag ’n verskil wil maak.

Die buurtspan, bestaande uit Jannie Opperman en Daniël Mulder, het eers by Laerskool Bailiepark gehelp om die ou fietsloods te omskep in ’n klein pawiljoen wat by die tennisbane gebruik kan word. Daarna het hulle ook gehelp om die palissade af te skuur. Hulle het ook by Laerskool Mooirivier die palissade om die naskool se gebou afgeskuur en geverf.

Die tak sal ook eersdaags begin met ’n herwinningsinisiatief in samewerking met Deswalner Herwinning. AfriForum het hiermee ten doel om te help om die omgewing te bewaar asook te help om die omgewing skoon te hou. Die tak moedig graag die gemeenskap aan om deel te word van hierdie inisiatief. Die kostes hiervan beloop R100 vir twee-weeklikse verwydering en R200 vir weeklikse verwydering.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe inisiatief. Die buurtspan kan werklik ’n groot verskil in Potchefstroom maak en ek wil die gemeenskap aanmoedig om van hulle dienste gebruik te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier .

Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, meen dat Potchefstroom voorheen een van die mees netjiese dorpe in die land was en dat dit ’n bitter pil is om te sien hoe hierdie geskiedenisryke dorp met fantastiese onderrig en mediese fasiliteite so in verval gedompel word. “Iets moet gedoen word en AfriForum se Potchefstroom-tak begin dalk klein, maar hulle het ’n groot toekoms in gedagte. Die plan is om binnekort minstens vyf aktiewe buurtspanne te hê wat in Potchefstroom funksioneer, maar om dit te laat geskied is die gemeenskap se samewerking en inkoop nodig.”

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf