|

Veerkragtige volharding verseker sukses van Mtingwevu gesamentlike landbou-ontwikkelingsinisiatief

Die gesamentlike landbou-ontwikkelingsinisiatief van AfriForum, Saai, die kantoor van Nkosi Zweloxolo Stokwe en die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief het ’n belangrike mylpaal bereik met die suksesvolle kweking en oorplanting van groente-saailinge in die Mtingwevu-gemeenskap. Dit volg op die opleiding wat in Oktober 2025 in samewerking met Stark Ayres en Hygrotech aan lede van die Mtingwevu-gemeenskap aangebied is oor die kweek van saailinge.

Ná die aanvanklike opleiding het gemeenskapslede verskeie uitdagings teëgekom met betrekking tot waterbeheer, blootstelling aan die son en wortelontwikkeling. Dit het egter nie die gemeenskap ontmoedig om met die inisiatief voort te gaan nie. Lesse is uit die uitdagings geleer en ’n groter fokus op kweekpratyke het gelei tot gesonde saailinge wat suksesvol in tuine aangeplant is. Die sukses van dié saailinge het die gemeenskap se selfvertroue in die inisiatief versterk.

“Ek was diep geraak en baie beïndruk met die toewyding van die gemeenskapslede. Ondanks uitdagings, ’n laat begin en ’n naderende herfs het hulle uitstekende werk gelewer en gereeld hul vordering gerapporteer. Dit maak my trots om te sien dat ons mense met soveel passie en deursettingsvermoë werk. Ons waardeer die vennootskap wat deur opleiding en deurlopende mentorskap die gemeenskapslede in staat stel om self saailinge te kweek wat nie net kos op gesinne se tafels kan sit nie, maar ook ’n inkomste vir families kan verseker,” sê Nkosazana (prinses) Noma Stokwe van die AmaQwathi-kultuurgemeenskap.

Nantes Kelder (Afrikaans)

“Ontwikkeling en gemeenskapselfstandigheid word nie oornag geskep nie. Enige gemeenskapsinisiatief bring uitdagings mee, maar die belangrike les is dat mislukkings nie die einde van die pad hoef te wees nie – dit bied die geleentheid om te leer, aan te pas en weer met groter fokus vorentoe te beweeg. Die verbetering wat ons beleef, wys wat moontlik is wanneer mense geleenthede benut, verantwoordelikheid neem en volhard,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder vir Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Leon Lourens (Afrikaans)

“Die verbetering van voedselsekerheid en die ondersteuning van kleinboere op hul reis na kommersialisering is van die belangrikste werk wat Saai saam met ons netwerkvennote doen. Waar vrugbare grond, gewillige mense, kundigheid en finansiële ondersteuning met respek bymekaarkom, word knellende probleme aangespreek en nuwe horisonne oopgelê. Dit is vir Saai ’n voorreg om by hierdie belangrike inisiatief betrokke te wees,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai.

Die eerste nederige sukses van hierdie gesamentlike inisiatief bevestig die belangrikheid van goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe en rolspelers, praktiese opleiding, volgehoue ondersteuning, aanpasbaarheid en deursettingsvermoë om landelike voedselsekerheid te verbeter en gemeenskapselfstandigheid te versterk. AfriForum en Saai is by die inisiatief betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN).

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners