Voertuigkapers vasgetrek danksy samewerking tussen AfriForum Delmas Valke-buurtwag en SAPD


AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het op Woensdag 8 Julie die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp om voertuigkapers in Delmas vas te trek ná hulle op die vlug geslaan het.
Die buurtwag het saam met CAM FX-sekuriteit ’n roetine patrollie rondom Delmas op die N12 gedoen en motoriste gehelp wat langs die hoofweg gaan staan het, om hul veiligheid te verseker. Die span het later by ’n vulstasie gestop en ondersoek ingestel na waar die plaaslike blitspatrollie ’n verdagte in ’n motorkaping gekonfronteer het ná hulle gehoor het hoe hy vir sy makkers oor die foon sê om versigtig te wees want die polisie is naby. Die blitspatrollie het die nodige inligting vanaf die verdagte gekry waarna ’n gekaapte swaarmotorvoertuig ’n kort ent van die vulstasie af gevind is.
Die ander twee verdagtes wat by die swaarmotorvoertuig was, het onmiddellik gevlug en die blitspatrollie het die buurtwag se hulp ingeroep om te help om die verdagtes te vind. Die buurtwaglede kon daarin slaag om met behulp van nagsigtoerusting die verdagtes op te merk waar hulle te voet langs die hoofweg in die rigting van Botleng gevlug het.
Die buurtwag het saam met die blitspatrollie gereageer en kon suksesvol een van die twee vlugtende verdagtes te arresteer. Die tweede verdagte het verder gevlug tussen privaat eiendomme deur en kon nie opgespoor word nie.
“Hierdie sukses wys dat goeie samewerking tussen buurtwagte en die polisie goeie suksesse bring. Die polisie of private buurtwagte kan nie alleen die stryd wen nie maar saam is dit moontlik,” sê Carel Botha, leier van die AfriForum Delmas Valke-buurtwag.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en ’n verskil in jou omgewing te help maak.



