AfriForum eis dringende optrede oor riool in Springbok
Die AfriForum-tak in Springbok doen ’n beroep op die waarnemende munisipale bestuurder van die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit, Refilwe Sebela, om dringend aandag te gee aan die rioolvloei by die rioolpompstasie in Tolweg, asook die algemene swak toestand van rioolwerk in die gebied.
Rou riool vloei nou al vir ’n geruime tyd deur dele van die gemeenskap, oor paaie en selfs in rivierlope in. Hierdie toestand hou ernstige gesondheids- en omgewingsgevare in vir inwoners van Springbok en omliggende areas.
In ’n skrywe aan Sebela het AfriForum sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan sigbare vordering om die probleem op te los ten spyte daarvan dat houthuisies, wat blyk om as stoorplek vir gereedskap en ander toerusting te dien, sowat drie weke gelede by die einste pompstasie opgerig is. Die gemeenskap word steeds daagliks blootgestel aan onaangename reuke, besoedeling en moontlike siektes.
“Die huidige toestand is onaanvaarbaar. Inwoners kan nie langer gedwing word om in sulke onhigiëniese en gevaarlike omstandighede te leef nie. Die munisipaliteit moet ingrypend optree om hierdie krisis op te los,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
AfriForum het die munisipaliteit onder meer versoek om:
- Die riool wat by die Tolweg pompstasie oorloop onmiddellik te stop;
- ’n volledige ondersoek na alle rioolwerke in Springbok te doen;
- ’n duidelike aksieplan en tydraamwerk aan die gemeenskap te kommunikeer; en
- alle nodige herstel- en instandhoudingswerk sonder verder vertragings uit te voer.
Die munisipaliteit het sewe werksdae om te reageer.



