AfriForum kap regering oor misplaaste prioriteite ná R800 miljoen vir Zanzibar-waterprojek bewillig word
Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)
Die goedkeuring van Rand Water se R800 miljoen-belegging in die Zanzibar-waterowerheid (ZAWA) se waterprojek in Tanzanië, dui volgens AfriForum op ernstige misplaaste prioriteite wat plaaslike dienslewering benadeel. Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het die goedkeuring van die belegging vroeër vandeesweek aangekondig.
Luidens die goewermentskennisgewing (nommer 7166) gaan Rand Water in ’n vennootskap met ZAWA en is toestemming verleen om ’n bestuurskontrak met ZAWA in die “revolusionêre regering van Zanzibar” te sluit vir die bedryf, bestuur en instandhouding van strategiese waterinfrastruktuur.
AfriForum bestempel die goedkeuring van dié reusebelegging as ’n polities gedrewe besluit ten koste van inwoners van Gauteng en dele van Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes wat van Rand Water se grootmaatwaterdienste afhanklik is.
“Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in sy begrotingsrede Woensdag aangevoer dat R64 miljard benodig word om die watervoorsieningsprobeleme in Johannesburg alleen op te los. Dit beklemtoon die omvang van die krisis in dié stad, maar tog keur die einste regering ’n multimiljoenrand-belegging vir die lewering van waterdienste in die buiteland goed. Dit is duidelik dat die politieke wil om die krisis op te los geheel en al ontbreek. Die regering versuim hiermee hul grondwetlike verantwoordelikheid om die lewering van water – ’n kritieke basiese diens – aan inwoners van veral Gauteng na te kom,” verduidelik Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Rand Water se vennootskap met ZAWA kom boonop te midde van kritiek teen dié Tanzaniese waterowerheid rakende onreëlmatighede in die toekenning van tenders. Daarbenewens kniehalter swak inkomste-invordering die owerheid en is daar in ’n 2022-verslag gewaarsku teen ZAWA se toenemende afhanklikheid van regeringsubsidies.




