Johannesburg-Noord-buurtspan rol self moue op en dóén

AfriForum se Johannesburg-Noord-tak het gedurende September sy buurtspan en oranje voertuig, wat as Oros bekendstaan, verder aan die gemeenskap bekendgestel as deel van ’n aksie om selfdoenvermoë in Johannesburg-Noord uit te brei en inwoners by praktiese gemeenskapsdienslewering te betrek.
Die Johannesburg-Noord-buurtspan is in Augustus vanjaar op die been gebring te midde van voortdurende uitdagings met munisipale dienslewering. Die doel is om probleme wat binne die gemeenskap se vermoë val, prakties en vinnig aan te pak, terwyl die inisiatief terselfdertyd werksgeleenthede skep en vaardighede ontwikkel.
Die span het reeds in sy eerste twee maande gewys wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap self verantwoordelikheid vir sy omgewing begin neem. Projekte wissel van die skoonmaak van parke en openbare ruimtes tot die verf van padmerke, ondersteuning by skole en die aanpak van veiligheidskwessies. Die tak het onder meer by een skool ’n boom wat begin het om ’n muur om te druk en dus ’n gevaar vir leerders ingehou het, afgesny en verwyder.
Gedurende AfriForum se Skoleomgewingsmaand in September het die buurtspan onder meer gehelp om padkruisings tydens ’n laerskool se pretloop te beveilig deur die verkeer by besige kruisings te bestuur sodat deelnemers die paaie veilig kon oorsteek, padtekens by ’n skool oorgeverf en met skolebegeleiding gehelp. Die span het ook die terrein by SAPD Linden opgeknap en ander gemeenskapsprojekte aangepak.
“Ons wil hê inwoners moet sien dat ’n gemeenskap nie magteloos hoef toe te kyk hoe sy omgewing agteruitgaan nie. Ons buurtspan is meer as net ’n voertuig, dit verteenwoordig ’n span mense wat bereid is om moue op te rol en self ’n verskil te maak. Goeie bure maak immers ’n goeie buurt,” sê Esias Bootha, voorsitter van AfriForum se Johannesburg-Noord-tak.
Die buurtspan fokus nie net op netheid nie, maar ook op veiligheid en gemeenskapsondersteuning. Dit borg onder meer ’n veiligheidskamera by ’n gekaapte eiendom om die risiko wat dié perseel vir die omliggende gemeenskap inhou, te help beperk.
Volgens Bootha is die Johannesburg-Noord-tak se langtermyndoel om die model verder uit te brei en meer buurtspanne in ander woonbuurte binne die takgebied te vestig. “Hiermee wil die tak die plaaslike gemeenskappe se vermoë versterk om probleme self aan te pak en die dienslewering wat inwoners behoort te ontvang, prakties aan te vul.” Kontak die buurtspan by 071 515 9207 as jy graag van hulle dienste gebruik wil maak.



