|

AfriForum bevraagteken wettigheid van Merafong se kragooreenkoms met Eskom

Deidré Steffens (Afrikaans)

AfriForum het ’n aanmaningsbrief aan die Merafong Plaaslike Munisipaliteit gestuur waarin ’n verduideliking gevra word oor sommige van die vermeende prosedurele onreëlmatighede wat die sluiting van die agentskapooreenkoms vir kragverspreiding met Eskom ondersteun. Die burgerregteorganisasie bevraagteken of dié ooreenkoms, wat skynbaar sonder openbare deelname onderteken is, ten volle met die toepaslike wetgewende vereistes ooreenstem.

AfriForum het derhalwe geëis dat die munisipaliteit bewys moet lewer dat daar aan alle statutêre vereistes voldoen is, insluitend openbare kennisgewings, uitvoerbaarheidstudies, raadsbesluite en die nodige goedkeurings van die Nasionale Tesourie en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA).

Luidens die ooreenkoms, wat in Desember 2025 onderteken is, word Eskom benoem as ’n eksterne diensverskaffer om funksies met betrekking tot kragverspreiding namens die munisipaliteit te verrig. Verbruikers moet dus ingevolge die ooreenkoms voortaan vir Eskom vir elektrisiteit betaal, in plaas van die munisipaliteit.

AfriForum waarsku dat ooreenkomste van hierdie aard, indien dit buite die streng vereistes van die wet gesluit word, die risiko loop om Eskom beheer oor munisipale kragverspreiding te gee sonder die nodige regulatoriese toesig. Hoewel volhoubare oplossings vir munisipale skuld noodsaaklik is, mag dit nie ten koste van wettigheid, deursigtigheid en grondwetlike aanspreeklikheid geskied nie.

Hierdie ooreenkoms volg op die Nasionale Tesourie se munisipale skuldverligtingsprogram wat in 2023 ingestel is en ’n raamwerk vir munisipaliteite met agterstallige kragskuld geskep het. Ingevolge hierdie raamwerk moes munisipaliteite wat nie aan die voorwaardes van die skuldverligtingsreëling voldoen het nie, by NERSA aansoek doen om hul elektrisiteitsverspreidingslisensies vrywillig te herroep.

In Mei 2025 het AfriForum aan NERSA geskryf om bevestiging te versoek of enige van die betrokke munisipaliteite – insluitend die Merafong-munisipaliteit – aansoek gedoen het vir die herroeping van hul lisensies. NERSA het tot op hede nie op hierdie versoek gereageer nie.

AfriForum voer aan dat in plaas daarvan om ’n deursigtige herroepingsproses te volg, het die munisipaliteit voortgegaan om ’n agentskapooreenkoms vir kragverspreiding met Eskom te sluit. AfriForum stel dit in sy brief dat dit moontlik neerkom op die effektiewe oordrag van funksies met betrekking tot kragverspreiding, sonder voldoening aan artikel 78 van die Wet op Munisipale Stelsels, wat openbare deelname, ’n evaluering van diensleweringsopsies en ’n uitvoerbaarheidstudie vereis voordat ’n eksterne diensverskaffer aangestel word. Die Elektrisiteitsreguleringswet verbied verder ’n lisensiehouer om sy bevoegdhede oor te dra of af te staan sonder skriftelike toestemming van NERSA.

“AfriForum besef dat kragskuld aan Eskom buitensporig is en dat talle munisipaliteite nie die kapasiteit het om kragnetwerke te onderhou of inkomste-invordering behoorlik te bestuur nie. Alternatiewe oplossings moet gevind word en ’n agentskapooreenkoms vir kragverspreiding is een van die oplossings. Die minister van Finansies het selfs onlangs munisipaliteite aangemoedig om soortgelyke ooreenkomste met Eskom aan te gaan. Dit is egter van kardinale belang dat hierdie ooreenkomste aan die nodige wetgewing voldoen,” sê Deidre Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf