AfriForum bied hulp aan SANW met uitvoering van veiligheidsoudits ná verskeie inbrake by weermagbasisse
Aan die hand van onlangse inbrake en wapendiefstal by sommige van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se fasiliteite in Gauteng, het AfriForum aangebied om die weermag opleiding te gee in die uitvoering van praktiese veiligheidsoudits by militêre persele. Veiligheidsoudits help om kwesbare punte op persele te identifiseer en die waarskynlikheid van toekomstige inbrake te verminder.
“Landsburgers het uit noodsaak geleer hoe om kwesbare punte in en om hul wonings te identifiseer, streng toegangsbeheer toe te pas, veiligheidsmaatreëls soos kringtelevisie in te span en vinnig op bedreigings van misdadigheid te reageer. Dit is daarom kommerwekkend dat gemeenskapsveiligheidstrukture en buurtwagte toenemend sekuriteitsmaatreëls toepas wat meer effektief blyk te wees as dié wat tans sekere strategiese militêre fasiliteite beskerm,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
AfriForum voer aan dat dit ’n nasionale veiligheidskwessie is dat kritieke infrastruktuur en toerusting by weermagbasisse herhaaldelik geteiken word. Die burgerregteorganisasie sê ’n volledige ondersoek moet van stapel gestuur word na die skynbare betrokkenheid van sindikate en beweerde interne samespanning by hierdie voorvalle.
“As misdadigers op verskeie geleenthede militêre persele kan binnedring, kommunikasiekabels oor etlike nagte sny en later terugkeer om die infrastruktuur te verwyder sonder om onderskep te word, moet ernstige vrae gevra word oor sekuriteit, interne beheermaatreëls en risikobestuursprosesse. ’n Mens sou redelikerwys verwag dat hierdie praktyke reeds deel vorm van standaardprosedures by militêre fasiliteite wat verantwoordelik is vir die beskerming van strategiese nasionale bates, maar dit is duidelik nie die geval nie,” sê Broodryk.
AfriForum se aanbod om hulp word in goeie trou en in die belang van nasionale stabiliteit en openbare veiligheid gemaak. Die burgerregteorganisasie glo dat alle beskikbare kundigheid aangewend moet word om veiligheid by sleutelpunte te versterk te midde van toenemende georganiseerde kriminele aktiwiteite in die land.



