Gauteng-vullisterreinkrisis blootgelê: AfriForum stel dokumentêr bekend, pleit vir hervormings in afvalbestuur
Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (English)
AfriForum het vandag sy dokumentêr Gauteng’s landfill time bomb tydens ’n première-geleentheid in Pretoria bekendgestel en daarmee die versnellende krisis rakende vullisterreinkapasiteit in Gauteng blootgelê. Ná die vertoning het die organisasie ook sy formele kommentaar op die konsep van die Nasionale Afvalbestuurstrategie (NWMS) 2026 bespreek en beklemtoon dat dié strategie ’n beslissende rol kan speel in die oplossing van die krisis, mits die nodige strukturele voorwaardes vir die uitvoering daarvan reggestel word.


Lambert de Klerk (Omgewingsakebestuurder by AfriForum) en Marais de Vaal (raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum)
Dokumentêr belig strukturele druk op die stelsel
Gauteng’s landfill time bomb ondersoek die toenemende krisis van munisipale vullisterreine in Gauteng wat nagenoeg 13 miljoen inwoners bedien en vinnig besig is om hul oorblywende kapasiteit te bereik. Teen die huidige stortingstempo sal die oorblywende kapasiteit van die 13 aktiewe munisipale vullisterreine in die provinsie se drie metropole, naamlik die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro, onderskeidelik binne ongeveer 16, 78 en 60 maande uitgeput wees.
AfriForum se doel met die dokumentêr is om openbare bewustheid te verhoog en ’n konstruktiewe gesprek tussen die regering, die industrie en die burgerlike samelewing te fasiliteer. Die organisasie waarsku dat, tensy strukturele tekortkominge in beplanning, finansiering, wetstoepassing en uitvoerende vermoë dringend getakel word, toenemende onwettige storting, omgewingsbesoedeling en stygende kostes die gevolg vir inwoners sal wees.
Die dokumentêr bied, deur middel van onderhoude met munisipale amptenare, kundiges vanuit die privaat sektor en bedryfsorganisasies, verskillende perspektiewe op die operasionele en strategiese uitdagings binne die afvalbestuurstelsel.
“Onvoldoende langtermynbeplanning, finansiële druk, operasionele beperkings en swak nakoming van wetlike verpligtinge het die afvalstelsel onder ernstige strukturele druk geplaas,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Ons wou nie vinger wys nie, maar wel uitwys wat gebeur wanneer ’n stelsel vir ’n lang tyd onder strukturele druk funksioneer. Die kernvraag is of die stelsel ontwerp is om te slaag.”
’n Konsepstrategie – NWMS 2026: Ambisie moet deur uitvoering ondersteun word
Tesame met die vrystelling van die dokumentêr het AfriForum vandag sy kommentaar op die konsep van die NWMS vir 2026 ingedien. Hoewel die organisasie die strategie se potensiaal erken, waarsku AfriForum dat ambisieuse teikens, soos die doelwit om binne vyf jaar 40% van afval weg te lei van vullisterreine, nie bereik sal word tensy die onderliggende strukturele beperkings op munisipale vlak getakel word nie.
AfriForum het verskeie kernkwessies in sy kommentaar belig:
- die herhaalde vasstelling van herwinningsdoelwitte sonder duidelike strukturele hervormings om implementering moontlik te maak;
- onvoldoende belyning tussen beleidsdoelwitte en munisipale kapasiteit;
- die noodsaaklikheid van monitering, wetstoepassing en versterking van aanspreeklikheid; en
- die gebrek aan sterker ekonomiese aansporings om groter privaatsektordeelname te ontsluit.

AfriForum erken dat afvalbestuur kompleks is en dat verantwoordelikheid gedeel word. Munisipaliteite en die privaat sektor moet egter ’n strukturele grondslag gegee word waarop hulle sukses gebou word. Bedryfsdata toon dat herwinningskapasiteit binne die breër stelsel bestaan. Die geleentheid wat ontsluit moet word, is om daardie kapasiteit nouer te belyn met munisipale toesig en dienslewering.
“Die NWMS gee vir ons die handleiding,” sê De Vaal. “Maar ’n tydbom word nie ontlont deur net ’n handleiding te skryf nie. Dit word ontlont deur die bedrading te verander. In hierdie geval is daardie ‘bedrading’ konsekwente wetstoepassing, behoorlik belynde aansporings en daadwerklike uitvoering van die strategie.”
AfriForum bly bereid om ’n konstruktiewe rol te speel in die oplossing van Gauteng se vullisterreinkrisis deur sy jaarlikse munisipale vullisterreinoudits, gemeenskapsnetwerke en herwinningsinisiatiewe.
“As privaatsektorkapasiteit, regeringstoesig en die burgerlike samelewing se deelname met mekaar kan strook, beweeg ons weg van krisisbestuur na voorkoming,” sluit De Vaal af.



