|

Gautengse vullisterreine ’n “bom” wat binnekort kan bars

Met al 13 Gautengse vullisterreine wat gemiddeld binne die volgende vier jaar die einde van hul leeftyd gaan bereik en die feit dat geen nuwe terreine tans ontwikkel word nie, is dié provinsie se vullisterreine ’n “bom” wat binnekort kan bars. So word aangevoer in AfriForum se dokumentêr Gauteng’s landfill time bomb wat vandag (4 Maart) by die AfriForum Teater in Pretoria bekendgestel is.

Data vir die samestelling van die dokumentêr is by staatsinstellings en die privaat sektor bekom en bevestig die skokkende feit: die kapasiteit van vullisterreine in die Johannesburg-, Tshwane  en Ekurhuleni-metro’s sal in onderskeidelik 16, 78 en 60 maande uitgeput wees.

Volgens Leon Grobbelaar, direkteur van Raalebborg Environmental, ’n Gautengse onderneming wat vullisterreine ontwerp, rehabiliteer en bestuur, is die ontwikkeling van nuwe vullisterreine ’n duur en tydsame proses.

“Dit kan R60 miljoen tot R80 miljoen kos om ’n nuwe vullisterrein te ontwikkel. Geskikte spasies om te ontwikkel raak ook al minder en is verder uit die stad. Dit sal boonop ongeveer vyf jaar neem om ’n nuwe terrein te ontwikkel en in gebruik te neem. Die huidige terreine sal onder meer en meer druk verkeer soos van die ander toemaak,” sê Grobbelaar.

Hy beklemtoon ook dat omslagtige die tydlyn vir die ontwikkeling van ’n nuwe stortingsterrein verleng en die proses bemoeilik.

Kelvin Legge, ingenieur voormalig verbonde aan die Departement van Water en Sanitasie, meen egter die beplanning van ’n nuwe terrein behoort nie langer as ses maande te neem nie. Hy meen ook dat die bou daarvan kan, afhangend van weersomstandighede, ook binne ses maande afgehandel word.

Dr. Abel Malaka, hoof van Omgewing- en Landboubestuur by die Tshwane-metro, voer in die dokumentêr aan dat daar nog tyd is om ’n krisis te voorkom. Hy erken wel dat dié metro nog nie naby aan teikens kom om afval wat op vullisterreine land, te verminder nie. Nasionaal is die doelwit om 40% van afval weg te lei van vullisterreine, maar in die Tshwane-metro staan dié herleiding tans op minder as 10% van vullis. In Kaapstad, waar dié metro self herwinningsentrums bedryf, is hierdie syfer ongeveer 30%.

’n Groter fokus op herwinning is juis een van die moontlike oplossings wat AfriForum voorstel om die leeftyd van vullisterreine te verleng. AfriForum se Centurion-tak het omtrent vyf jaar gelede ’n herwinningsprojek van stapel gestuur en het sedertdien na die Pretoria uitgebrei. AfriForum se Centurion-herwinningspunt hanteer in dié stadium maandeliks reeds ongeveer 40 ton vullis wat andersins waarskynlik op een van die stad se vullisterreine sou beland het.

“Die doel van die dokumentêr is om die publiek van die probleem bewus te maak,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake. “Voorts hoop ons om dialoog tussen die onderskeie rolspelers aan die gang te sit en sodoende ’n oplossing vir die probleem te vind.”

As deel van sy veldtog om die vullisterreinkrisis bloot te lê, het AfriForum ook vandag sy kommentaar op die konsep van die Nasionale Afvalbestuurstrategie vir 2026 ingedien. Hoewel die organisasie die strategie se potensiaal erken, waarsku AfriForum dat ambisieuse teikens, soos die 40%-herleidingsdoelwit, nie bereik sal word tensy die onderliggende strukturele beperkings op munisipale vlak getakel word nie.

 AfriForum het verskeie kernkwessies in sy kommentaar belig:

  • die herhaalde vasstelling van herwinningsdoelwitte sonder duidelike strukturele hervormings om implementering moontlik te maak;
  • onvoldoende belyning tussen beleidsdoelwitte en munisipale kapasiteit;
  • die noodsaaklikheid van monitering, wetstoepassing en versterking van aanspreeklikheid; en
  • die gebrek aan sterker ekonomiese aansporings om groter privaatsektordeelname te ontsluit.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, plaas veral klem op “gebruik, verminder en herwin” as ’n strategie vir die oplossing van die vullisterreinkrisis.

“Die goeie nuus is dat die kapasiteit  en mark bestaan, en dat die industrie die vermoë het om aan te pas. Ja, die regering het ’n verantwoordelikheid om oplossings te vind, maar ons het elkeen ook ’n belangrike rol om te speel om die druk op vullisterreine te verminder,” sluit hy af.

Klik hier om die dokumentêr te kyk.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf