Uitspraak voorbehou oor Melgisedek-hervestiging; AfriForum hou druk op Tshwane-metro
AfriForum het vandag in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn in verband met ’n dringende aansoek om die hervestiging van honderde inwoners van die Melgisedek-gebou na ’n terrein in Gezina te stop. Die hof het na aanhoor van argumente uitspraak tot Donderdag voorbehou en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se onderneming gevra om enige verdere verwikkelinge rakende die hervestiging te staak totdat die uitspraak gelewer word.
Die aansoek volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Tshwane-metro beoog om ongeveer 450 mense na ’n leë stuk grond op die hoek van Nico Smith-straat en Johan Heyns-rylaan te hervestig – ’n terrein wat volgens AfriForum nie geskik is vir sodanige ontwikkeling nie.
AfriForum het in sy hofstukke aangevoer dat die beplande hervestiging ernstige risiko’s vir veiligheid, infrastruktuur en openbare orde inhou en dat die metro versuim het om behoorlike beplanning, konsultasie en deursigtige prosesse te volg. Die organisasie het ook uitgelig dat die betrokke grond nie vir ’n grootskaalse tentedorp gesoneer is nie en dat basiese dienste, soos chemiese toiletgeriewe, vullisverwydering en watervoorsiening, onvoldoende sal wees.
“Ons het dit vandag duidelik gemaak dat hierdie nie bloot ’n logistieke besluit is nie, maar een wat diepgaande gevolge vir beide die Pretoriase Moot-gemeenskap en die Melgisedek-inwoners self inhou,” sê Arno Roodt, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die noordstreek.
Roodt beklemtoon dat die organisasie nie die noodsaaklikheid van ingryping by Melgisedek, wat naby die Steve Biko Akademiese-hospitaal geleë is, ontken nie, maar dat die wyse waarop dit tans gedoen word, onaanvaarbaar is: “Soos gewoonlik tree die Stadsraad reaktief eerder as pro-aktief op – en sodoende maak hulle hul probleme bloot die Moot s’n eerder as om dit volhoubaar te takel.”
Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria, sê die organisasie sal voortgaan om die proses fyn dop te hou: “Ons wag nou op die hof se uitspraak, maar intussen bly ons gefokus daarop om die regte van alle Pretoria-inwoners te beskerm en seker te maak dat die metro aanspreeklik gehou word.”
Tydens AfriForum se besoek aan die terrein in Gezina vanoggend was daar reeds ’n draadheining omgespan, sowel as 24 tente en twee krane (wat gelek het) opgerig. Daar was steeds geen toilet-, was- en kookgeriewe aangebring nie. Hoewel dit die Tshwane-metro se voorneme is om die Melgisedek-inwoners al teen Donderdag (wanneer die hofuitspraak plaasvind) te verskuif, het die hof die metro vir ’n onderneming gevra om niks verder rakende die moontlike verskuiwing voor Donderdag se uitspraak te doen nie.
“Hierdie saak gaan oor die beginsel dat gemeenskappe nie aan ondeurdagte en ondeursigtige besluite onderwerp kan word nie. Ons sal aanhou om in belang van Pretorianers op te tree,” sluit Hemmens af.
Die burgerregteorganisasie moedig inwoners van Pretoria aan om die hofsaak te ondersteun en hul naam by die stryd te voeg deur die petisie te onderteken.





