|

AfriForum se Rustenburg-tak begin met herwinningsprojek

AfriForum se Rustenburg-tak het onlangs ’n herwinningsprojek van stapel gestuur wat fokus daarop om huishoudelike afval te versamel en te sorteer sodat herwinbare materiaal hergebruik kan word. Dié herwinningsdiens, wat nou aan al die inwoners van Rustenburg beskikbaar is, het ten doel om ’n skoner en meer volhoubare omgewing te bevorder.

Daar word beraam dat Suid-Afrikaners jaarliks ​​ongeveer 122 miljoen ton afval in die vorm van bourommel, organiese afval, tuinvullis, verpakking ensovoorts produseer. Min of meer 10% van daardie afval word herwin, wat beteken dat die oorgrote meerderheid steeds op stortingsterreine beland. Met hierdie projek wil die tak ’n praktiese oplossing bied om die druk op stortingsterreine te verlig en terselfdertyd inwoners bewus te maak van die waarde van herwinning. Deur deel te neem aan die projek kan huishoudings hul omgewingsimpak verminder en aktief bydra tot ’n skoner dorp.

“Dit is vir AfriForum belangrik om projekte te dryf wat nie net bewusmaking skep nie, maar ook volhoubare oplossings bied. Herwinning is een van die eenvoudigste maniere waarop gemeenskappe ’n tasbare verskil kan maak,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico.

Herwinning dra by tot die bewaring van natuurlike hulpbronne, verlaag besoedeling en help om die lewensduur van bestaande stortingsterreine te verleng. Dit is ’n noodsaaklike stap in die rigting van verantwoordelike omgewingsbestuur.

“Ons moedig alle inwoners aan om deel te word van hierdie inisiatief en saam met ons ’n verskil te maak. Deur klein veranderinge in ons daaglikse gewoontes kan ons ’n groot impak maak,” sê Viljoen.

Dié diens is tot inwoners se beskikking teen ’n koste van R99,99 per maand vir ’n tweeweeklikse diens. Besoek www.afriforumdienste.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf