AfriForum gryp in ná munisipaliteit dreig om Sannieshof se krag onregmatig te sny
AfriForum het die inwoners van Sannieshof opnuut te hulp gesnel nadat die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit glo gedreig het om wéér ondernemings en huishoudings in dié gebied se kragtoevoer af te sny. Talle huishoudings en ondernemings het verlede jaar dispute verklaar nadat die munisipaliteit daarop aangedring het dat hulle agterstallig op hul kragrekeninge is. Die munisipaliteit het voorheen probeer om kragtoevoer te sny en het skynbaar vandeesweek weer gedreig om dit te doen.
AfriForum het in ’n skrywe aan die munisipaliteit daarop gewys dat indien hy voortgaan om kragtoevoer na huishoudings en ondernemings te sny, dit teen die bepalings van die Wet op Plaaslike Regerings Stelsels gedoen sal word. Alhoewel die munisipaliteit die reg het om skuldinvorderings- en kredietbeheermaatreëls te implementeer, insluitend die afsny van kragtoevoer vir agterstallige rekeninge, plaas artikel 102(2) van die Wet op Plaaslike Regerings Stelsels 32 van 2000 ’n duidelike verbod daarop indien ’n dispuut verklaar is.
“Dit beteken dat geen kredietbeheermaatreëls, insluitend die sny van kragtoevoer, geïmplementeer mag word totdat ’n geldige dispuut ingevolge artikel 102(2) van die Wet op Plaaslike Regerings Stelsels opgelos is nie,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Sommige van die inwoners en eienaars van ondernemings het al meer as ses maande gelede ’n dispuut teen die munisipaliteit verklaar omdat hul kragrekeninge foutief is, nie agterstallig nie. AfriForum het in sy skrywe daarop aangedring dat die munisipaliteit eerder hom moet beywer om dié dispute op te klaar, as om onregmatig op te tree.
AfriForum het verder versoek dat die munisipaliteit inwoners ingelig hou oor die status van hul dispute én moet sorg dat inwoners skriftelik ingelig word as hulle krag wel afgesny gaan word.
“AfriForum sal nie toelaat dat munisipaliteite onwettig optree nie en sal alles in sy vermoe doen om te verseker dat inwoners die nodige ondersteuning ontvang. Die Tswaing-munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid teenoor sy inwoners om te verseker dat enige hangende dispute so gou as moontlik opgelos word en dat alle rekeninge korrek uitgestuur word,” sê Nel.
Die burgerregteorganisasie behou die reg om verdere regstappe te oorweeg indien die munisipaliteit voortgaan om onregmatig op te tree.
“AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om te verseker dat wet en orde gehandhaaf word.”



