Straat vir straat wys AfriForum selfbestuur ís moontlik op Chrissiesmeer
Sedert AfriForum sy Chrissiesmeer-tak, op dié geliefde toeristedorp op Mpumalanga se Hoëveld, op die been gebring het, is ’n beduidende ommekeer sigbaar en die afgelope maand het die tak weer verskeie projekte aangepak om dié herlewing vol te hou.
Chrissiesmeer is ’n dorp met ’n ryke geskiedenis wat beskik oor verskeie gastehuise en trouvenues. Die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit het egter die afgelope paar jaar dienslewering op dié dorp agterweë gelaat. Ernstige verval, oorgroeide groenstroke en algehele agteruitgang het die dorp se aanloklikheid as toeristebestemming ernstig geknou. Die ommekeer wat die plaaslike AfriForum-tak die afgelope jaar hier bewerkstellig, speel egter reeds ’n kritieke rol in die herlewing van Chrissiesmeer en die bevordering van die dorp as ’n toeristebestemming. Die tak pak deurlopend projekte aan om herstel hier te bewerkstellig en strate weer skoon te maak en netjies te hou – en wys hiermee dat selfbestuur op Chrissiesmeer nou binne bereik is.
Gedurende Maart het die Chrissiesmeer-tak sy vullisverwyderingsdiens voortgesit en meer as 80 sakke vullis by huishoudings en ondernemings verwyder. Die tak het boonop – in die tyd wat die munisipaliteit geen vullisverwydering kon doen nie – ook ingespring om dié taak self te takel en 100 sakke vullis verwyder.
Daarbenewens het die tak meer as 11 hektaar gras gesny en verskeie toegangsroetes na die dorp, insluitende dié by die N17 en die paaie na Breyten, Carolina en Warburton, netjies gemaak. Die dorp se gedenkmuur, ou tennisbane en die begraafplaas is ook skoon gesny, terwyl moeite gedoen word om leë erwe skoon te hou en moontlike wegkruipplekke vir sluipslapers of misdadigers te beperk.




“AfriForum se projekte op Chrissiesmeer is ’n doelgerigte poging om ons dorp weer terug te neem en in sy eertydse glorie te herstel. Ons is moeg vir munisipaliteite se leë beloftes, maar nou takel ons sake self en is op die punt om te bewys dat selfbestuur hier nie net moontlik is nie, maar die enigste oplossing,” sê Millicent van den Heever, voorsitter van die Chrissiesmeer-tak.
Die tak beplan intussen om binnekort ’n straatnaamprojek, waartydens nuwe straatnaamborde opgerig sal word, aan te pak. Van den Heever nooi ondernemings en inwoners uit om by die projek betrokke te raak of die tak finansieel te ondersteun.
Sluit aan en raak vandag nog betrokke by die AfriForum se Chrissiesmeer-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



