|

AfriForum betuig medelye met afsterwe van nkosazana Nomakhosazana Stokwe

AfriForum het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van nkosazana (prinses) Nomakhosazana Stokwe, suster van nkosi (senior tradisionele leier) Zweloxolo Stokwe en adjunk-sekretaresse van die Stokwe Ndlela- koninklike familie van die AmaQwathi- tradisionele gemeenskap van Cala in die Oos-Kaap. Nkosazana Nomakhosazana is gisteroggend (9 Augustus) ná ’n lang siekbed oorlede.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sal nkosazana Noma, soos sy bekend was, onthou word vir haar toegewyde werk om die lewe van almal in haar gemeenskap te verbeter.

“Nkosazana Noma het haar nkosi, die koninklike familie en gemeenskap met onwrikbare toewyding gedien. Sy het die deure vir AfriForum oopgemaak om in samewerking met nkosi Zweloxolo en die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief ’n verskil in die Mtingwevu-gemeenskap, buite Cala, te maak. Ons is haar ewig dankbaar daarvoor. Wat sy ook al gedoen het, het sy met geesdrif gedoen soos vir die Here en nie vir mense nie, soos wat daar geskryf staan in Kolossense 3:23. Sy was hierdeur vir ons, as haar broers en susters in Christus, ’n navolgenswaardige voorbeeld,” sê Uys.

“Die beste manier waarop ons nkosazana Noma se nalatenskap kan eer, is om die goeie werk wat sy gedoen het, te laat voortleef. Ons sal dit na die beste van ons vermoë probeer doen. AfriForum dra sy innige meegevoel aan die Stokwe Ndlela- koninklike familie en die AmaQwathi- tradisionele gemeenskap oor. Ons bid vir vertroosting vir nkosi Zweloxolo, die koninklike familie, die AmaQwathi-kultuurgemeenskap en almal wat deur nkosazana Noma se lewe geraak is,” sluit Uys af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners