|

AfriForum se Overstrand-tak gereed om veldbrande en ander rampe te takel

’n Totaal van 40 vrywilligers het die afgelope naweek se veldbrandbestrydingopleiding en rampbestuurkursus by AfriForum se Overstrand-tak bygewoon. Hier het hulle teoretiese en praktiese opleiding ontvang wat hulle sal bemagtig om veldbrande te help bestry en hoe om hulself en ander lede van die gemeenskap veilig te hou.

“Veldbrande is die gevaarlikste brande aangesien weerstoestande baie vinnig kan verander en indien jy nie die wetenskap van hoe veldbrande werk verstaan nie gaan jy nie die situasie na behore kan bestuur nie, en dit kan lewens en eiendom bedreig. Dis dus belangrik vir elke dorp om die nodige risiko-ontleding te doen en gebeurlikheidsplanne op te stel wat die risiko’s van veldbrande sover moontlik beperk,” verduidelik Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum wat dié opleiding aangebied het.

AfriForum se Rampbestuurafdeling help takke om bogenoemde ontleding te doen en die nodige planne in plek te stel. Onderwerpe wat die naweek bespreek is, sluit onder meer in die impak en fases van ’n ramp, praktiese risiko-ontleding; en wat om voor, tydens en ná ’n ramp te doen. Hierdie onderwerpe is aan die hand van voorbeelde soos orkaan Katrina en die Knysna-brande bespreek. Daar is ook meer spesifiek na veldbrande gekyk en die rol wat plantegroei en die snelheid van die brand se verspreiding kan speel.

AfriForum se Overstrand-tak het 40 vrywilligers opgelei om brande te bestry.

“Veldbrandopleiding is ’n redelike nuwe kursus vir ons takke, maar AfriForum-lede wat verlede November in Swellendam opgelei is, het reeds op 8 April vanjaar saam met die brandweer in die dorp gehelp om ’n veldbrand by Suurbrak te blus,” sê Cooks.

Leon Smit is tydens die Overstrand-opleiding as rampbestuurleier vir die tak aangestel. Dis die eerste AfriForum-tak wat hierdie posisie geskep het en die vooruitsig is dat elke tak só ’n leier sal aanstel. Die wyse waarop hierdie tak rampbestuur toepas, sal as bloudruk dien vir ander takke om hul rampbestuurvermoëns uit te brei en proaktief op te tree om die impak van rampe te beperk.

“Die veldbrandopleiding en rampbestuurskursus was uitstekend. Dit was baie inligting wat ons in ’n kort tydjie moes inneem, maar die wyse waarop dit bespreek en gedemonstreer is, was puik. Ons het baie geleer oor hoe om op te tree en om as ’n span saam te werk. Die opleiding was baie leersaam en ek kan dit hoogs aanbeveel,” sê Smit.

“Die veldbrandopleiding en rampbestuurkursus het AfriForum-lede nie net toegerus met die nodige kennis oor die voorkoming en bestryding van veldbrande nie, maar het hulle ook bemagtig om met selfvertroue en dissipline voor, tydens en ná rampe op te tree. Sodoende kan hulle ’n tasbare verskil in die veiligheid, paraatheid en weerbaarheid van hul gemeenskappe maak,” sluit Cooks af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid