AfriForum onderneem eie ondersoek na brandstofheffings ná regering se gebrek aan optrede
AfriForum het sy navorsingsafdeling vandag opdrag gegee om omvattende ondersoek in te stel na die samestelling van die land se brandstofpryse. Die ondersoek sal in die besonder fokus op die onderskeie heffings, naamlik die brandstof-, koolstof- en Padongelukkefondsheffing, en verwante verrekeningsmeganismes.
Die burgerregteorganisasie het Enoch Godongwana, minister van Finansies, in September versoek om ’n onafhanklike oudit van die huidige brandstofpryse en -heffings te doen. Daar is sedertdien geen aanduiding ontvang dat dié oudit deur die minister se kantoor onderneem gaan word nie. AfriForum het daarom besluit om self die oudit te doen.
Hierdie oudit sal ondersoek instel na die berekening van die onderskeie heffings; die toepassing, doeltreffendheid, deursigtigheid en proporsionaliteit daarvan; die aanwending en die doeltreffendheid van die aanwending van fondse; die ekonomiese impak van die heffings op verbruikers, vervoeroperateurs, landbou en kleinsakeondernemings; asook opsies vir blywende hervorming om die druk op verbruikers te verlig.
AfriForum het reeds in Junie vanjaar by Godongwana aangedring daarop om die tydelike vermindering van die algemene brandstofheffing permanent in te stel of ten minste te verleng. Oliepryse het sedertdien hoog gebly en die wêreldwye energiekrisis is steeds onopgelos. AfriForum het ook in Junie gewaarsku dat ’n kortstondige verlaging slegs die druk op verbruikers, ondernemings en die ekonomie sou uitstel, eerder as om hulle te help om dit te vermy.
Brandstofpryse gaan teen middernag vannag (7 Oktober) rekordhoogtes bereik wanneer petrol en diesel elk met ongeveer R3 per liter sal styg. Hierdie drastiese styging in vervoerkoste sal ’n verwoestende inflasionêre uitkringeffek op die ekonomie hê wat ondernemings, die landbousektor en verbruikers veral besonder hard gaan tref.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, reageer die regering met verlammende verskrikking en besluiteloosheid op die energiekrisis. “As burgerregtewaghond kan AfriForum nie net toekyk terwyl die mense van die land finansieel by die brandstofpomp geknak word nie. Die regering het die mag om in te gryp, maar doen niks nie. Iemand moet die oorsaak van die lewenskostekrisis in die land blootlê en aandring op broodnodige hervormings. AfriForum is bereid om hierdie noodsaaklike stryd aan te pak,” sluit Van Zyl af.
AfriForum sal sy lede en die publiek op hoogte hou van die vordering van sy oudit en sal die bevindinge mettertyd bekendmaak.



