|

AfriForum sluit samewerkingsooreenkoms met Knysna-munisipaliteit

AfriForum se Knysna-tak het die afgelope Vrydag ’n belangrike stap geneem om dienslewering in die gebied te verbeter met die ondertekening van ’n formele samewerkingsooreenkoms met die Knysna Plaaslike Munisipaliteit. Hierdie stap lê die grondslag vir ’n nuwe era van samewerking tussen die burgerlike samelewing en plaaslike regering.

Met die nuwe memorandum van verstandhouding word AfriForum se samewerking met die munisipaliteit, asook projekte ter ondersteuning van ontwikkeling en vooruitgang, amptelik geformaliseer. AfriForum en die Knysna-munisipaliteit kom onder meer ooreen om saam uitdagings ten opsigte van dienslewering  in die gemeenskap te takel.

Die ooreenkoms waarborg dat AfriForum met die opknapping en instandhouding van infrastruktuur kan help, projekte kan aanpak wat openbare spasies verbeter en aanvullende oudits en onafhanklike monitering van watergehalte en vullisterreine kan uitvoer. Hierdie funksies is daarop gemik om deursigtigheid en doeltreffendheid te bevorder terwyl die gemeenskap die dienste ontvang wat hulle op geregtig is.

Die afgelope jaar het dié tak bewys dat hy bereid en in staat is om ’n betekenisvolle verskil te maak: AfriForum se eerste buurtspan in die Wes-Kaap is in Knysna begin; die tak het ’n suksesvolle herwinningsdiens van stapel gestuur; die hele Buffelsbaai se padmerke en spoedhobbels is oorgeverf; meer as 20 ton teer is gebruik om slaggate in Knysna en Sedgefield reg te maak; en die publieke badkamers in Sedgefield en Buffelsbaai is opgeknap en oorgeverf. Die tak het ook in 2024 die pad wat lei na die terrein waar tuinvullis gegooi word, geskraap en herstel. Jaarlikse oudits word gedoen om te bepaal of dié terrein aan die nodige vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.

“Hierdie projekte is ’n bewys dat die tak ’n wesenlike bydrae kan lewer én met praktiese oplossings vorendag kan kom wat ten voordeel van die hele gemeenskap is,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

“Ons glo dat ware vooruitgang moontlik is wanneer gemeenskappe en plaaslike owerhede hande vat. Hierdie ooreenkoms staan as bewys dat AfriForum bereid is om te bou en saam te werk – nie net vir vandag nie, maar ook vir die toekoms van elke inwoner van Knysna.”

Die eerste gesamentlike projek tussen AfriForum en die Knysna-munisipaliteit skop eersdaags af. Die tak gaan hiertydens hand bysit om altesaam 185 waterbesparende toilette in die Smutsville woonbuurt te installeer.

AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots. Sluit vandag nog aan en help die Knysna-tak om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Marthinus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf