| | |

Springbok-tak bied helpende hand aan Wielie Walie Bergsig en Wielie Walie Springbok

AfriForum se Springbok-tak het in Junie, as deel van die organisasie se skoleprojekte, projekte aangepak om watersekerheid en waterbesparing by twee plaaslike kleuterskole te bevorder.

’n Waterbergingstenk is by die Wielie Walie-kleuterskool in Springbok opgerig om die skool beter toe te rus vir tye wanneer Springbok wateronderbrekings ervaar. Die tenk sal help om die skool se daaglikse bedrywighede te ondersteun en die impak van watertekorte te verminder.

Die tak het ook by Wielie Walie Bergsig noodsaaklike herstelwerk aan die skool se waterstelsel gedoen. Waterlekkasies in die badkamers is herstel deur krane met nuwe wassers toe te rus, terwyl lekkende toiletspoeltenks herstel of vervang is waar dit nodig was. Hierdie herstelwerk dra nie net by tot beduidende waterbesparing nie, maar help ook om die skool se infrastruktuur in ’n beter toestand vir leerders en personeel te hou.

“Praktiese gemeenskapsprojekte soos hierdie is ’n voorbeeld van hoe AfriForum saam met plaaslike instellings werk om volhoubare oplossings vir alledaagse uitdagings te skep. Water is ’n kosbare hulpbron, veral in ons streek, en elke druppel wat bespaar word, maak ’n verskil,” sê Joanita De Beer, sekretaresse van AfriForum se Springbok-tak.

Die Springbok-tak spreek sy opregte waardering uit teenoor elke vrywilliger wat hulpbronne en kundigheid beskikbaar gestel het om hierdie projek ’n sukses te maak. “Deur saam te werk, kan gemeenskappe self verantwoordelikheid neem vir die verbetering van hul omgewing en die toekoms van hul kinders,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf