|

AfriForum verwelkom besluit om Gauteng-nommerplaatprojek op ys te plaas

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

AfriForum verwelkom die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer se besluit om die provinsie se nuwe nommerplaatstelsel vir eers op ys te plaas. Dié plan sou die eienaars van die provinsie se meer as 5 miljoen geregistreerde voertuie dwing om nuwe nommerplate aan te skaf. AfriForum het gedreig om regstappe te doen indien die departement met die implementering van die stelsel sou voortgaan alvorens die vervolging van die sogenaamde nommerplaatkartel nog nie afgehandel is nie.

Kedibone Diale-Tlabela, lid van die uitvoerende raad (LUR) vir Paaie en Vervoer in Gauteng, het dié aankondiging na berigte Donderdag tydens haar departement se 2026/2027-begrotingspos gemaak. Diale-Tlabela voer aan dat die nommerplaatprojek vir eers op ys geplaas is aangesien “verskeie stelselbeperkings” tydens die loodsprojek uitgewys is wat “verdere tegniese verbeterings” vereis. Sy het voorts gesê dat die projek eers hervat sal word sodra die beperkings die hoof gebied is en die nodige nasionale wetgewende en regulerende prosesse afgehandel is.

Dié skielike u-draai in die implementering van die nommerplaatprojek kom nadat die projek in Junie 2025 van stapel gestuur is toe die nuwe nommerplate op 300 van die provinsie se vlootvoertuie aangebring is. Volgens die aanvanklike beplanning sou die projek binne ses maande na alle privaat voertuie in die provinsie uitgebrei word.

AfriForum het egter, teen die einde van Mei vanjaar in ’n prokureursbrief aan die departement daarop aangedring dat die projek eers – hangende die Mededingingstribunaal se vervolging van drie nommerplaatvervaardigers – gestaak word. Die Mededingingskommissie het in Maart vanjaar aangekondig dat ’n kartel van blanko-nommerplaatvervaardigers sedert minstens Junie 2023 in die provinsie aktief is en pryse wederregtelik vasgestel het. Die kommissie se bevindinge oor prysvasstelling tussen vervaardigers is intussen na die tribunaal verwys vir vervolging.

AfriForum het in sy skrywe aan die departement en Lesufi gewaarsku dat hy ’n hofaansoek teen die departement sal bring indien daar nie aan die eis vir die staking van die projek gehoor gegee word nie.

Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, verwelkom die departement se besluit om die implementering van die projek vir eers te staak. Hy waarsku dat die departement voertuigeienaars met die implementering van die nuwe nommerplate in ’n onafwendbare knyp sou plaas. “AfriForum het reeds herhaaldelik op die risiko’s van die situasie gewys. Om voertuigeienaars te dwing om op te dok vir nuwe nommerplate, terwyl die sogenaamde nommerplaatkartel hul sakke volstop sou en vervolging van betrokkenes nog aan die gang is, sou bloot onverantwoordelik wees. Vir so lank as wat die saak nog hangende is, kan daar geen sekerheid wees dat nuwe nommerplate teen billike pryse verskaf sal word nie,” verduidelik Boshoff.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik