Slegs twee weke oor om Ons vir jou in teater te sien

Teaterliefhebbers wat die musikant, akteur en touleier Bok van Blerk as genl. Koos de la Rey nog in die musiekspel Ons vir jou wil sien, moenie huiwer om dit te doen nie. Met die verlengde speelvak wat op 21 Junie eindig, is dit nou teatergangers se laaste kans om dié aangrypende Afrikaanse produksie in sy huidige speelvak te sien.

Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater, sê die afgelope maand was al die naweekvertonings meer as 90% uitverkoop, met Saterdagmiddae wat veral groot byval gevind het. Net meer as 11 000 kaartjies is reeds verkoop en met slegs twee weke van die speelvak oor, word die laaste kaartjies vinnig opgeraap.

“Die reaksie op Ons vir jou is ongelooflik bemoedigend en mense se opgewondenheid om die produksie te beleef, wys hoe diep die musiekspel mense raak. Met naweekvertonings en veral Saterdagmiddae wat besonder gewild is, wil ons teatergangers aanmoedig om nie tot op die laaste oomblik te wag om hul plek te bespreek nie,” sê Smith.

Ons vir jou is ’n musiekspel oor die Tweede Vryheidsoorlog en het uit die pen van Deon Opperman en Sean Else ontstaan, met musiek deur Johan Vorster. Die produksie vertel ’n aangrypende verhaal van oorlog, verlies, liefde en hoop. Sedert sy oorspronklike debuut jare  gelede het die musiekspel diep aanklank by gehore gevind. Die huidige weergawe het opnuut bewys waarom dit as een van die belangrikste Afrikaanse musiekblyspele van die afgelope twee dekades beskou word.

“Vir baie teatergangers is die produksie meer as bloot vermaak. Dit bied ’n geleentheid om stil te staan by die menslike verhale agter die geskiedenis – verhale van moed, opoffering en die behoud van menswaardigheid te midde van moeilike omstandighede,” sê Smith.

Die produksie word gelei deur Bok van Blerk en spog met ’n rolverdeling van gevestigde teaterkunstenaars soos Nadia Beukes en Zöricke Snyman; ’n indrukwekkende stelontwerp deur Wilhelm Disbergen; en ’n bekroonde tegniese span.

Ons vir jou speel slegs tot 21 Junie by AfriForum Teater. Geen verdere verlenging van die speelvak word tans beplan nie en sekere vertonings se beskikbaarheid raak vinnig beperk.

Koop jóú kaartjies nou: www.onsvirjou.com.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners