|

Afrikaans 100-letters vind tuiste in Pretoria en Centurion

Dit is nou net bietjie meer as ’n jaar sedert die reuseletters wat die woord “Afrikaans” uitgespel het,die toer na die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl en terug na die Voortrekkermonument in Pretoria geneem het. Dié kleurvolle en skouspelagtige lettertoer is aangepak ter viering van Afrikaans se 100ste verjaarsdag as amptelike taal. Hierdie letters het intussen ’n permanente tuiste in Pretoria en Centurion gevind.

“Die agt instellings van die Solidariteit Beweging wat aan die projek deelgeneem het, het elk ’n letter geborg. Die Afrikaans Amptelik 100-oorsigkomitee het die negende letter opgeneem. Ons was nuuskierig om te sien wat elke instelling met hul letter gedoen het en het daarom by elkeen gaan inloer om uit te vind,” verduidelik Carien Bloem, projekleier van die Afrikaans 100-lettertoer.

AfriForum se letter A staan in dié organisasie se voorportaal in Kloofsig, Centurion, en het reeds ’n nuwe baadjie aangetrek. “Ons het besluit om voortaan elke jaar ons letter aan te pas vir die tema waarmee ons daardie jaar besig is. Vanjaar se tema is gemeenskapsbouers,” verduidelik Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Solidariteit Helpende Hand het ook hul letter, die R van Afrikaans, in hul voorportaal geplaas waar elke besoeker en personeellid dit daagliks kan sien. “Almal kan sien dat ons roepingsgedrewe werk en dat ons Afrikaans 100% ondersteun. Helpende Hand en die Ons Winkels streef elke dag daarna om ons gemeenskap te ontwikkel in Afrikaans,” sê René Roux, bestuurshoof vir Media by Solidariteit Helpende Hand.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die letter I in hul raadsaal geplaas. Volgens Melanie Buys, hoof vir Ontwikkeling by SOS, staan die letter onder meer vir innovasie. “As ons onderwys nuut en volhoubaar wil hou moet ons innoverend dink en in die metodes wat ons gebruik. Ons moet ook innoverend wees om ons gemeenskappe by ons skole te betrek om dit sterker te maak en ons Afrikaanse skole uitnemend te hou,” sê sy.

Sol-Tech se K staan langs die plein waar studente in die oggende vir skriflesing en gebed bymekaarkom. Dit is juis hier geplaas om studente te herinner aan die belangrike rol wat Afrikaans op hierdie kampus speel.

Yolandi Collins: Operasionele hoof van Sol-Tech

Soos met die letter van Sol-Tech het Akademia en Solidariteit besluit om hul letters te vertoon op plekke waar personeel en studente dit elke dag sal sien. Akademia se A staan in hul naslaanarea, getooi met hoed en al, en Solidariteit se S pryk in die spysenieringshoekie waar alle personeel dit tydens ’n bietjie samesyn sal sien.

Pieter Jordaan: Bestuurder van Nuus en Publisiteit by Solidariteit

Die ander drie letters is op verskillende plekke op vir Voortrekkermonument (VTM) se terrein. Die F is in die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Liedjietuin, die N voor die Maroela Media-kantoor en die laaste A in ’n stoor by die amfiteater. Laasgenoemde was die letter van die oorsigkomitee en daar word beplan om dit ook binnekort op die terrein van die VTM uit te stal.

“Ons het doelbewus besluit om die F in die Liedjietuin te plaas omdat musiek nog altyd deel van die FAK se verhaal was. Dit is ook veral betekenisvol dat die VTM agter die letter te sien is. Dit verbind ons taal met ons geskiedenis,” verduidelik Barry Müller, hoof van Nasionale Projekte by die FAK.

Christa Steyn-Bezuidenhout: Inhoudskoördineerder vir taal en nuus by Maroela Media

“Dit is so lekker om te sien hoe elke instelling se letter ’n unieke tuiste gekry het en ook ander oulike inisiatiewe wat ontstaan het uit die letters wat instellings op ander kreatiewe maniere aangewend het. Elke instelling het nou ’n beeldende kunswerk wat hul bydrae tot Afrikaans simboliseer maar ook herinner aan hierdie spesiale en unieke projek waarvan hulle kon deel wees,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners