| | |

Verordeninge sonder toepassing is betekenisloos – AfriForum eis antwoorde van Metsimaholo

AfriForum het Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit tot verantwoording geroep oor die gebrekkige toepassing van munisipale verordeninge en verkeersbeperkings in Sasolburg. Die burgerregteorganisasie doen ’n beroep op Basi Motloung, om ’n formele verduideliking te verskaf oor waarom bestaande verordeninge en verkeersbeperkings nie konsekwent afgedwing word nie.

Volgens AfriForum behoort daar beter beheer te wees oor swaar voertuie wat paaie gebruik waar daar duidelike gewigs- en voertuigbeperkings is. Dit sluit onder meer dubbelwa-vragmotors en perd-en-sleepwa-kombinasie vragmotors in wat deur die sentrale sakekern en ander beperkte gebiede beweeg ondanks verkeerstekens wat dit verbied. Hierdie voertuie dra tot die agteruitgang van munisipale paaie by, waarna inwoners en belastingbetalers uiteindelik vir die herstel daarvan moet opdok.

“Dit help nie ’n munisipaliteit aanvaar verordeninge en rig verkeerstekens op, maar niemand dwing dit af nie. Wanneer oortreders weet dat daar geen gevolge is nie, word die reëls bloot geïgnoreer. Intussen word Sasolburg se infrastruktuur verder beskadig en die rekening beland uiteindelik by die belastingbetaler,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

In ’n skrywe aan Motloung eis AfriForum onder meer duidelikheid oor hoeveel gemagtigde wetstoepassers, verkeersbeamptes, verkeersopsieners en/of vredesbeamptes tans beskikbaar is om die munisipaliteit se verordeninge en toepaslike verkeerswetgewing af te dwing. Indien daar nie voldoende kapasiteit is nie, moet die Metsimaholo-munisipaliteit verduidelik waarom die nodige kapasiteit nog nie geskep is nie. Die munisipaliteit moet ook aandui watter stappe teen swaarvoertuigoperateurs gedoen word wat gewigs-, voertuig- en ander verkeersbeperkings verontagsaam, asook hoeveel boetes, kennisgewings of ander afdwingingsaksies die afgelope 12 maande vir dié soort oortredings uitgereik is.

“Die oppergesag van die reg beteken dat reëls nie net op papier kan bestaan nie – dit moet toegepas word. Padtekens wat gewigs- of voertuigbeperkings aandui, beskerm onder meer infrastruktuur. As niemand dié beperkings afdwing nie, verloor dit prakties alle betekenis,”  sê David Wright, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak.

AfriForum wys daarop dat artikel 58(1) van die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 bepaal dat ’n persoon, tensy ’n verkeersbeampte anders gelas, nie ’n voorskrif wat deur ’n padteken aangedui word, mag verontagsaam nie.

Metsimaholo het tot 24 September om ’n volledige skriftelike antwoord te verskaf en aan te dui watter regstellende maatreëls ingestel sal word om doeltreffende toepassing te verseker. Indien die munisipaliteit nie bevredigend reageer nie sal AfriForum verdere stappe oorweeg. Pretorius moedig die gemeenskap aan om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak en só ’n daadwerklike verskil te maak.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf