Meer as die helfte van Wes-Kaapse vullisterreine op standaard – maar talle vaar steeds vrot, toon AfriForum-oudit
Meer as die helfte van vullisterreine en oorlaaistasies wat AfriForum vanjaar as deel van sy vullisterreinoudit in die Wes-Kaap getoets het – oftewel 14 uit 26 terreine wat geoudit is –voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Die provinsie het boonop ’n gemiddelde nakomingspunt van 66% gehaal, meer as enige ander provinsie in die land.
AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat onlangs vrygestel is, toon voorts dat die Wes-Kaap ook die meeste terreine het wat alle vereistes van die oudit nagekom het en dus ’n nakomingspunt van 100% behaal het. Dié terreine is die Gansbaai- en Hermanus-vullisterreine in die Overstrand Plaaslike Munisipaliteit en die Gordonsbaai-oorlaaistasie in die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit. Die enigste ander terrein in die land wat dié mylpaal bereik het, is die Tonkmeter Resource Facility in Springs wat privaat bestuur word deur Tonkmeter.
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se streekshoof vir die suidstreek, is die Wes-Kaapse vullisterreine in vele opsigte uitsonderlike voorbeelde van verantwoordelike vullisbestuur. Hy waarsku egter dat dié prestasie nie oral in die provinsie voorkom nie en dat die prestasie op die uiterstes van die spektrum aangeteken is. “Terwyl terreine in onder meer Mosselbaai en Overstrand Plaaslike Munisipaliteite uitstekend vaar, is die prestasie van talle vullisterreine in veral die Hessekwa en Knysna Plaaslike Munisipaliteite beroerd,” benadruk hy.
Nege terreine in dié provinsie kon boonop nie eens daarin slaag om ’n gemiddelde nakomingspunt van 50% aan te teken nie. Dié terreine is (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Old Place-vullisterrein, Knysna Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Ashton-vullisterrein, Langeberg Plaaslike Munisipaliteit (10)
- Sedgefield-oorlaaistasie, Knysna Plaaslike Munisipaliteit (18)
- Witsand-vullisterrein, Hessekwa Plaaslike Munisipaliteit (22)
- Heidelberg-vullisterrein, Hessekwa Plaaslike Munisipaliteit (26)
- Slangrivier-vullisterrein, Hessekwa Plaaslike Munisipaliteit (32)
- De Doorns-vullisterrein, Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit (36)
- Lambertsbaai-vullisterrein, Cederberg Plaaslike Munisipaliteit (38)
- Jongensfontein-vullisterrein, Hessekwa Plaaslike Munisipaliteit (42)
“Daadwerklike optrede is by veral hierdie terreine noodsaaklik om die impak van swak vullisterreinbestuur te halt en om te keer. Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het om mense en die omgewing. Beide Knysna en die Hessekwa-streek is geleë in die breër Kaapse Floraryk en swak vullisterreinbestuur in dié munisipaliteite kan omvangryke negatiewe gevolge vir onder meer die streek se unieke biodiversiteit en waterbronne inhou. Ons het nou die kans om sake reg te ruk en die omgewing te beskerm en munisipaliteite moet die kans aangryp voordat dit te laat is en onherroeplike skade aangerig word,” sluit Ferreira af.
AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand oorhandig aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria. Die burgerregteorganisasie sal intussen voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.



