Skrywer en regskenner Martin van Staden aangestel om AfriForum se federalisme-instituut te vestig
Dr. Martin van Staden, skrywer, regskenner en uittredende beleidshoof van die Vryemarkstigting (FMF), is pas aangestel as hoof van AfriForum se nuwe Instituut vir Federalisme (AIF). Dié instituut sal dien as die burgerregteorganisasie se algemene navorsings- en beleidsontwikkelingsentrum en as instrument vir die bevordering van denke en navorsing oor federalisme, selfbeskikking, desentralisasie en gemeenskapsoutonomie en -deelname.
Van Staden sal intussen in ’n senior adviserende hoedanigheid betrokke bly by die FMF en aanbly as hoofredakteur van die FMF se aanlyn nuusplatform, Rational Standard. Hy sal ook steeds dien in verskeie uitvoerende rade van die FMF en aanbly as lid van die FMF-direksie.
Hy het in Mei vanjaar ’n doktorsgraad in die regte (LLD) verwerf, nadat hy ’n proefskrif onder toesig van professor Koos Malan aan die Universiteit van Pretoria voltooi het. Sy proefskrif het die verskynsel van transformatisme in die Suid-Afrikaanse publiekreg ondersoek.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal Van Staden se aanstelling AfriForum se beleidsontwikkelings- en navorsingsvermoë oor die praktiese toepassing van gemeenskapsfederalisme as ’n lewensvatbare alternatief vir die land se falende gesentraliseerde stelsel, aansienlik versterk. “AfriForum werk reeds oor die hele land heen daaraan om sterk, selfstandige gemeenskappe te bou wat verantwoordelikheid vir hul eie toekoms neem. Van Staden en die pas gestigte AIF sal help om ’n stewige teoretiese en praktiese grondslag te lê vir AfriForum se werk in hierdie verband. Ons sien daarna uit om hom in die span te verwelkom, terwyl ons saam bou aan ’n beter toekoms,” benadruk Kriel.

Alhoewel AfriForum en die FMF onafhanklike instellings is met verskillende prioriteite en onderwerpe van klem en fokus, het die organisasies al voorheen saamgewerk op gebiede van gemeenskaplike belang.
Die FMF het onder meer onlangs aangesluit as vriend van die hof by AfriForum se hofsaak om die grondwetlikheid van die Onteieningswet te betwis. Die organisasies het ook ander raakpunte in denke. Die benadering van die FMF se Khaya Lam (“My tuiste”)-inisiatief wat daarop gemik is om eienaarskap van eiendom onder individue sonder formele titelaktes te bevorder, strook byvoorbeeld met AfriForum se werk waardeur daar reeds sedert 2006 prakties gebou word aan die beskerming en uitbreiding van gemeenskappe se vryhede.
Dié raakpunte bevestig, volgens Van Staden, dat gemeenskapsbou en individuele vryheid nie teenstrydige beginsels is nie, maar mekaar eerder versterk. “Daar kan geen gemeenskap wees sonder die vrye en vrywillige deelname van individue nie; so kan daar ook geen vrye individu wees sonder die karaktervastheid, beskerming teen staatsabsolutisme en die opbloei wat deur sosiale bande moontlik gemaak word nie,” benadruk hy.
Van Staden sien intussen uit daarna om sy kennis en ervaring by AfriForum en meer spesifiek in die vestiging van die AIF aan te wend en leiding hier te bied. “Die tradisie van konstitusionalisme, geordende vryheid en federalisme sal my werk by AfriForum rig, en is noodsaaklik vir die bevordering van ’n veerkragtige gemeenskapslewe – die grondslag vir ’n vryer en meer stabiele Suid-Afrika. AfriForum en die Solidariteit Beweging se twee dekades lange toepassing van gemeenskapsfederalisme bied boonop ’n stewige fondament waarop nou voortgebou kan word.”
David Ansara, uitvoerende hoof van die FMF, hou vol dat Van Staden se regsgeleerdheid en voorspraak vir vryheid die afgelope byna tien jaar ’n reusebate vir dié stigting was. “Ons wens hom alle voorspoed toe met hierdie unieke geleentheid en uit sien daarna om ons samewerking met hom in ’n adviserende hoedanigheid voort te sit.”
Van Staden is in Junie 2023 aangestel as hoof van beleid van die FMF. Hy was voor dit adjunkhoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en ’n regsgenoot by Sakeliga. Vanaf 2017 tot 2020 was hy ook werksaam by die FMF, eers as regsnavorser en daarna as hoof van regsbeleid. Hy is sedert 2018 lid van AfriForum en het in samewerking met die burgerregteorganisasie navorsing onderneem oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en rassewetgewing.
“Ek is baie dankbaar teenoor die FMF vir die rol wat die stigting gespeel het in my professionele ontwikkeling en in die onverskrokke bevordering van vryheid in die land. Ek sien uit daarna om in die jare wat kom my bydrae tot die stigting se werk voort te sit,” sluit Van Staden af.



